Dié 16- en 17-jarige seuns is toe Woensdag net daar – op dieselfde plek waar hulle Esbie Koster (50) glo die vorige dag om ’n saamrygeleentheid gevra het – in hegtenis geneem.

Ao. Mpeile Talane, polisiewoordvoerder, sê die seuns het Donderdag in die Brits-landdroshof op aanklagte van ontvoering, moord en motordiefstal verskyn.

Hul name mag nie bekend gemaak word nie omdat hulle minderjarig is. Die saak is tot volgende week uitgestel.

Die seuns is geneem na die Rustenburg Kinder-en-jeugsentrum, waar hulle ondersoek en geëvalueer sal word “om te bepaal hoekom hulle die misdaad sou pleeg”, sê Mpeile.

Henry Francis, skoolhoof van die Christenskool Rabboni, waar Esbie al ses jaar sekretaresse is, klink sommer moeg as jy met hom oor die foon praat.

“Esbie was ’n geliefde mens onder die personeel, kinders en ouers. Sy was die gesig van die skool, die eerste met wie mense praat as hulle iets oor die laerskool wil weet,” sê Henry.

“Sy het daardie kantoor soos ’n sersant-majoor bestuur en was verskriklik georganiseerd. Esbie het alles van die skool geweet. Sy laat ’n groot leemte.”

Volgens Mpeile het die twee seuns na bewering Dinsdagmiddag vir Esbie ’n saamrygeleentheid na die bushalte in Brits gevra. Esbie het saam met haar man, Jan, in Brits gewoon.

Een van die seuns het glo ’n vuurwapen by hom gehad. Mpeile sê die bewering is dat die vuurwapen aan die seun se pa behoort en die seun die wapen gesteel het. Dié veronderstelling word nog ondersoek.

“Die bewering is dat terwyl hulle gery het, een van die seuns ’n vuurwapen op die vrou gerig en haar gedwing het om na ’n ander plek te ry,” sê Mpeile.

“Die seuns het haar gedwing om van die pad af te trek, waarna sy in die nek geskiet is. Sy is net een keer geskiet.” ’n Verbyganger het Esbie se lyk Dinsdagmiddag in ’n veld naby die Ou Letlhabile-pad in Magalieskraal gevind.

Henry sê die skool is “deur diep waters” sedert hulle van Esbie se moord gehoor het. “Dit is nie maklik vir die personeel of die kinders nie. Ons het berading gekry vir dié wat dit nodig het.

“Ons is geseënd met baie ondersteuning van die omgewing se mense, ander skole en selfs oudleerders,” sê Henry.