Nadat die hoërskoolkinders die Shakespeare-tragedie Macbeth behandel het, is hulle gevra om ’n afskeidsbrief aan hul geliefdes te skryf.

In een van die bekendste tonele in die bekende verhaal bring lady Macbeth haarself om die lewe omdat sy nie kan saamleef met die wete dat sy koning Duncan help vermoor het nie. Dié deel in die teks was die motivering van die taak.

Woedende ouers voel die opdrag was “weersinwekkend” en ongevoelig. Veral een meisie was baie ontsteld.

’n Vrou wat nie haar naam genoem wou hê nie, het aan Daily Mail gesê drie van haar dogter se vriendinne het hul eie lewe geneem. Haar dogter was gevolglik “baie ontsteld” toe hulle gevra is om ’n selfdoodbrief te skryf. 

Die ma het die skool dadelik gekontak toe sy van die taak hoor. “Minstens twee klasse het hierdie opdrag gekry. My dogter is baie uitgesproke, maar daar is ander kinders wat meer teruggetrokke is en dalk aan depressie ly.”

Sy het aan News Shopper gesê al is sy ten gunste daarvan dat die skool selfdood behandel, moet dit op ’n ander manier gedoen word.
 
“Op watter planeet was dit al ooit, in enige situasie, ’n goeie idee om ’n klomp tieners te vra om ’n selfdoodbrief te skryf? Ek steun die feit dat hulle die onderwerp behandel, maar dit behoort in ’n ondersteunende omgewing te geskied.”

Nog ’n ouer wat anoniem wou bly, het aan Daily Mail gesê: “Wie ook al hierdie opdrag uitgedink het, behoort terug te gaan onderwyskollege toe.” 

Die skool het die ouers intussen verskoning gevra en die skoolhoof, Carolyn Roberts, het gesê stappe is gedoen om seker te maak geen soortgelyke klasopdragte word gegee nie.

“Ons besef dit het die gesin ontstel en het die vakmateriaal en benadering met die leerkragte bespreek. Ek het verlede week met die ouer vergader en haar gerusgestel oor die stappe wat gedoen is.”

Bronne: Daily Mail, Metro UK, News ShopperThe Sun