Lady Gaga het verklap sy was lank in ’n vernietigende leefstyl vasgevang.

Die sangeres (27) het vertel sy het in haar tienerjare dwelms gebruik en ’n eetsteuring gehad. Sy vertel sy was in ’n verwoestende siklus vasgevang omdat sy dit moeilik gevind het om pyn te laat vaar.

Gaga het aan V Magazine gesê: “Ek het die vermoë om pyn, emosioneel of fisiek, lank te verduur. Ek dink dis as gevolg van my dissipline as ’n kind.

“Ek het klavier bestudeer, toe teater en toe dans, so ek het hierdie vermoë om lank pyn te verduur. Maar die gevolg was dat ek, toe ek op 18 volwasse word, myself toegelaat het om in slegte situasies te bly omdat ek die pyn kon verduur.”

Die popster reken haar kreatiwiteit en liefde vir musiek het haar op die ou end van verslawing gered en haar herbore help word uit die “dop” van die mens wat oorgebly het.

Gaga het bygevoeg: “Toe ek jonger was, kon ek lank uithou, maar die gevolge was vernietigend. Net ’n dop het oorgebly. Weet enigiemand werklik wat ek deurgemaak het om hier te kom? Kuns was altyd die ding wat my in hierdie uitdagende en pynlike omstandighede aangedryf het.”

Die modebewuste ster poseer vir vier verskillende voorblaaie vir die tydskrif, gegrond op verskillende stadiums in haar lewe. Sy vertel die voorbladfoto van haar in ’n rooi blinkerversierde Saint Laurent-baadjie was die moeilikste om te laat neem, want dit het haar aan ’n pynlike tyd in haar lewe herinner. Sy het gesê: “Daardie voorkoms was baie moeilik vir my omdat dit is hoe ek gelyk het tussen 19 en 21 . . . miskien langer.”