’n Negentienjarige tiener van die stad Herne in die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale het Maandag sy afgryslike daad in ’n sogenaamde snuff film aanlyn gedeel. Hy het daarna voet in die wind geslaan. Die polisie het die tiener, wat intussen as Marcel Hesse geïdentifiseer is, in hegtenis geneem nadat hy Donderdagaand ewe kalm ’n kitskosrestaurant in Herne binnegeloop en gesê het: “Bel asseblief die polisie – hulle soek na my.”

Nadere besonderhede oor die grusame moord op ’n negejarige slagoffer is nou bekend.
Jaden (9) se stiefpa, Pascal R. (hul albei se van word weerhou), het op sy lyk afgekom in ’n groot plas bloed in die kelder van ’n gebou langs die een waarin Marcel woon. Jaden is glo 56 keer gesteek nadat Marcel hom die gebou binnegelok het. “Die prentjie van my stiefseun wat daar dood lê . . . ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het hom in ’n reuse-plas van sy eie bloed aangetref.”

Marcel het na bewering omstreeks sesuur die aand die gesin se deurklokkie gelui om te vra of Jaden hom met die opstel van lere kan help.

Volgens Pascal was hy en sy vrou, Jeanette F. (41), op pad om inkopies te gaan doen terwyl Jaden en sy stiefbroers, Maurice en Steven, tuis sou gebly het.

Met Pascal en Jeanette se terugkeer sowat twee uur later, was daar geen spoor van Jaden nie. Pascal het tevergeefs aan Marcel se deur gaan klop. En Jeanette sê sy het ’n nare voorgevoel gekry iets skort.

Pascal en die twee seuns het glo oor ’n balkonmuur geklouter om na Jaden in die gebou te gaan soek. Hulle het die bebloede Jaden in die kelder aangetref. Pascal sê dit was nie eens moontlik om sy hart te masseer nie omdat bloed uit al die wonde gestroom het.

Jaden se ma het aan die Duitse dagblad Bild gesê dat Sandy, Marcel se suster, hom as ’n absolute “psycho” beskryf het. Sy en Marcel het alleen in die huis gewoon nadat hul ouers begin vanjaar verhuis het.

Kort nadat Marcel in hegtenis geneem is, het die polisie op nog ’n lyk in ’n brandende woonstel naby die kitskosrestaurant afgekom. Dié vonds hou moontlik verband met Jaden se moord en Marcel se geneigdheid om op die donker web gebruik oor sy wandade te spog.

(Die donker web is ’n netwerk wat moeilik bereikbaar is vir gewone internetgebruikers. Kuberkrakers, pedofiele, dwelmhandelaars, sluikhandelaars en dergelike misdadigers gebruik dit as ’n soort ondergrondse “toevlug”.)

Marcel het na bewering ure nadat Jaden vermoor is, in ’n kletskamer op die donker web gespog hoe hy by nog ’n slagoffer se huis ingebreek het.

Hy het voorts ook glo gesê dat hy ’n vrou aangeval het, dat sy “meer weerstand as die kind” gebied het en dat hy haar wou martel om haar bankbesonderhede en PIN uit haar uit te kry.

“Ek het myself in die hand gesny terwyl ek met die 120 kg-ondier geworstel het.”

Die vermoede bestaan dat Marcel ook die volgende in die kletskamer te sê gehad het: "Ek weet ook dat mense stadig sterf wanneer hulle geslag word.”

Dis nog onseker of die moord op Jaden seksueel gemotiveerd was. Die polisie het wel die video gesien, maar van die beeldmateriaal “is beelde wat geen mens ooit wil sien nie”.