“Mammie, ek’s jammer hieroor, maar jy sal môre my lyk in ’n kis vind,” het Camron Britz geskryf in een van die briewe wat ná haar dood gevind is, berig die Daily Voice.

“Ek is al moeg en swak vir die lewe; die Here moet my asseblief vergewe. Môre staan  julle voor my kruis met ’n klomp mooi goed op ’n lys.”

Camron is verkrag en vermoor. Haar halfnaakte lyf is in die bosse langs Slangkopweg gevind – dis naby waar sy en haar gesin in Ocean View in die Suid-Skiereiland woon.

Die tiener het ’n maand voor haar dood ’n nagmerrie gehad waar sy deur ’n groep mans verkrag en vermoor word, maar sy kon nie haar moordenaars se gesig uitmaak nie.

Camron, ’n leerder aan die Hoërskool Ocean View, het daarna briewe geskryf waarin sy haar dood en begrafnis voorspel. Een van die briewe is as bewysstuk aan die polisie oorhandig.

Volgens haar ma, Berenice Brits (41), het Camron planne gemaak om die Saterdagaand by ’n vriendin oor te slaap wat naby hulle woon.

Toe sy Sondagoggend haar dogter gaan haal om kerk toe te gaan, het sy tot haar skok uitgevind Camron het nooit daar opgedaag nie, het sy aan die Daily Voice vertel.

’n Soektog is gelas na die 14-jarige meisie en haar lyk is later die middag gekry.

Sy is verkrag en verwurg met die kappietop wat sy gedra het. Haar oorskot is met ’n oranje kombers bedek.

’n Verdagte (19) is in hegtenis geneem en is tans in polisieaanhouding, het lt. kol. André Traut, polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot gesê. 

“’n Ondersoek het gelei tot ’n 19-jarige man se inhegtenisneming; hy word nog aangehou."

Cathy Cronje, voorsitter van die Ocean View-gemeenskapspolisiëringsforum, het aan EWN gesê: “Ons veroordeel alle moorde in Ocean View, veral die verkragting van en moord op ’n 14-jarige meisie.”

Daar was ’n toename in geweldsmisdaad in die gebied, het Cronjé bygevoeg. Camron was een van die vier mense wat daardie naweek in die gemeenskap vermoor is.

“Ons het hierdie naweek vier moorde in ons omgewing gehad. Dis buitengewoon.”


Ekstra bronne: iol.co.za, EWN