Die twee het na bewering die tiener gedwing om talle mengeldrankies en sopies te drink om hom te leer van die gevare van drank.

Volgens hofdokumente wou Kendall Ball se ma, Paulette Richardson, en stiefpa, Joseph Richardson, “hom ’n les leer”, want hy wou die afgelope paar jaar “baie graag drink”.

Paulette het ook aan die polisie gesê haar seun se biologiese pa was ’n alkoholis en sy was bang hy word ook een.

Toe gee sy en haar man Kendall drankies, onder meer bier en “’n paar sopies Fireball en ’n paar sopies Jack Daniel’s”. Dit is glo gedoen om die kind “’n les oor drank te leer en te laat naar word”.

Die tiener het geen tekens van alkoholvergiftiging getoon toe sy elfuur die aand by hom inloer nie.

Maar dit het duidelik geword alles is nie pluis nie toe Joseph ’n paar uur later gaan kyk hoe dit met die seun gaan.

Kendall het nie gereageer nie, sy “lippe en ooglede was donkerblou” en donker vloeistof het by sy mond uitgeloop.

Volgens die lykskouing is die tiener dood weens “komplikasies van akute alkoholvergiftiging” met ’n bloedalkoholvlak van 0,587. Dit is sewe keer die wettige perk vir motor bestuur.

Luidens hofdokumente het Kendall medisyne vir aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring gedrink. Op die medisyne se voubiljet word gewaarsku gebruikers moet hul inname van alkohol beperk.

Twintig jaar tronkstraf staar Joseph en Paulette Richardson nou in die gesig.

“Dis nie my plig om ouerskapsbesluite namens mense te neem nie,” het Loretta Gerrard, Unita se distriksprokureur, gesê.

“Maar ek hoop mense verstaan sekere tradisionele ouerskapsgebruike, ouvroustories en teorieë geld nie in ’n era waar ons verfynde produkte het wat die uitwerking van chemikalieë op die liggaam versnel nie.”

Bronne: nydailynews.com, news.yahoo.com