’n Amerikaanse tiener se pa waarsku ouers teen die gevare van energiedrankies nadat sy seun dood is, want hy het een van dié kafeïen-belaaide drankies, ’n koffie en ’n koeldrank “vinnig afgesluk”.

Die 16-jarige van Suid-Carolina in Amerika het verlede maand in die klas by die skool skielik sy bewussyn verloor.

Hy is na die hospitaal gehaas, waar hy ’n uur later dood is.

Die uitslae van die nadoodse ondersoek is hierdie week bekendgemaak. Dit toon die tiener is dood aan ’n “inwerking van kafeïen op die hart wat waarskynlik aritmie (’n onreëlmatige hartklop) veroorsaak het”.

throwback of the century bois

A post shared by davis cripe (@pinksicle) on

“Dit is nie ’n kafeïenoordosis nie,” het Gary Watts, lykskouer van die distrik Richland, op ’n mediakonferensie gesê.

“Ons sê nie dit was die totale hoeveelheid kafeïen in sy gestel nie. Dit was net die manier waarop dit oor daardie kort tydperk ingeneem is en die vinnige afsluk van die energiedrankie aan die einde wat gelei het tot die probleem met die hart-aritmie.”

“ ’n Getuie sê hy het die gewone grootte energiedrankie verskriklik vinnig afgesluk 15 minute voor hy sy bewussyn verloor het.”

“Dit was die grootste probleem – hoe hy daardie energiedrankie afgesluk het,” sê Watts, en voeg by die handelsmerk van die drankie is nie bekend nie.

what a dude. it was awesome getting a lesson from one of the chillest drummers in the game, thanks matt A post shared by davis cripe (@pinksicle) on

Davis se familie is verslae oor die dood van hul seun.

“Ek staan voor julle as ’n gebroke pa en hoop iets goeds kan hieruit kom,” sê sy pa, Sean Cripe.

“Dit was nie ’n motorongeluk wat sy lewe geëis het nie,” sê Sean. “Pleks daarvan was dit ’n energiedrankie.”

Hy waarsku alle ouers oor die gevare daarvan dat hul kinders kafeïen drink.

“Ouers, praat asseblief met jul kinders oor die gevaar van die energiedrankies,” sê Sean. “En tieners en studente, moet dit asseblief nie koop nie. Daar’s geen rede om dit te drink nie. Dit kan baie gevaarlik wees.”

Bronne: Buzzfeed, Metro.co.uk, NBC Network