Volgens OFM, het Morné van der Westhuizen, ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, sy meisie, Chrisna Botha, Maandag in die hospitaal besoek toe hy hoor sy is breindood. Pieter Steyn van Netwerk24 berig Morné het van ’n balkon op die sewende verdieping gespring en in die hospitaal se voorportaal te lande gekom. Chrisna, ook ’n student aan die universiteit, het oor die naweek van ’n perd geval.

Morné se broer De Wet het aan OFM news gesê sy broer het die oggend van die voorval geen tekens gewys dat hy sy lewe wil neem nie. “Volgens De Wet het sy broer in die hospitaal gaan besoek en dié het selfs saam met hom na sy motor gestap en hom vertel hy het hom lief,” het die radionuus-webtuiste vanoggend berig. ’n Woordvoerder vir Mediclinic het gesê die hospitaal het mediese en trauma-ondersteuning aan almal gebied wat Morné se dood aanskou het, insluitend twee mense wat hom probeer keer het. Hy het in die hospitaal se voorportaal te lande gekom. Beeld berig dat Morné amper op Willie Brönn (77) geval het. “Dit was ’n harde slag,” het hy aan die dagblad vertel. “Hy het langs my geval. Hy het soos ’n sak aartappels geval en doodstil gelê.”

Bronne: netwerk24.com, volksblad.com beeld.com, ofm.co.za