Net soos Doogie Howser van ouds en met duidelike parallelle met die intrige van Catch Me If You Can, het hierdie 17-jarige ’n maand lank dokter-dokter in ’n hospitaal in die Amerikaanse deelstaat Florida gespeel.

Die seun het ’n wit doktersjas gedra, kompleet met die hospitaal se kenteken op die bors geborduur. Hy het ’n stetoskoop om sy nek gehang en elke dag in die hospitaal se gange rondbeweeg. Hospitaalpersoneel vertel hulle het hom gereeld gesien en hom altyd as “dokter” aangespreek. Sekuriteitskameras in die hospitaal het gewys hoe die tiener in die hospitaal rondloop, maar daar word vermoed hy het nooit enige pasiënte se kamer binnegegaan nie.

Hy het ’n stetoskoop om sy nek gehang en elke dag in die hospitaal se gange rondbeweeg.

Dit was juis toe hy besluit het om in die ginekologieafdeling ’n pasiënt se kamer binne te gaan dat die jong man se “kollegas” onraad begin vermoed het. ’n Regte dokter, Sebastian Kent, vertel hy het snuf in die neus gekry toe hy die tiener in die ginekologieafdeling gewaar.

“Ek het gedink, al lyk dokters elke jaar jonger, lyk dié een darem heeltemal te jonk.” Kent het toe die seun gekonfronteer waarna sy identiteit uitgekom het.

Luidens berigte het die seun se ma gesê hy ly aan ’n onbepaalde toestand wat dalk verantwoordelik kon gewees het vir sy optrede.

Die polisie het intussen bevestig dat die seun nie vervolg gaan word nie, want hy het geen wet tydens sy bisarre optrede oortree nie.

Bronne: NYDAILYNEWS.COM, THESMOKINGGUN.COM