’n Chinese tiener het sy hand afgesny in ’n drastiese stap om sy verslawing aan die internet te genees.

Die 19-jarige van Nantong in die Jiangsu-provinsie is na ’n hospitaal gehaas nadat hy sy linkerhand met ’n kombuismes afgesny het.

Die plaaslike uitsaaier Jianngu TV het berig die jeugdige het sy hand afgesny terwyl hy op ’n openbare bankie gesit het.

Die tiener se ma het verlede Woensdagaand ’n briefie in haar seun se leë kamer gekry.

Dit het gelui: “Ma, ek is vir ’n ruk hospitaal toe.

“Moenie bekommerd wees nie. Ek sal beslis vanaand terugkom.”

Die tiener, net bekend as “Klein Wang”, het ’n kombuismes saamgeneem toe hy uit die huis is.

Hy het sy linkerhand by die pols afgesny en die hand op die grond laat lê terwyl hy ’n taxi gebel het om hom na ’n noodeenheid daar naby te bring.

Die chirurge by die plaaslike universiteitshospitaal kon die hand weer aanwerk nadat die polisie dit opgetel het.

Een van die seun se onderwysers het sy optrede toegeskryf aan internetverslawing wat hom “voortvarend” gemaak het.