’n Grusame gesig het die polisie Maandag in Pilot, Noord-Carolina, begroet nadat hulle op ’n tiener se noodoproep gereageer het. Oliver Mauricio Funes-Machado (18) het omstreeks kwart voor een die middag ingebel en gesê hy het pas sy ma vermoor. Maar niks het die polisie voorberei op wat hulle by hul aankoms sou aantref nie. Die tiener het uit die huis gekom met wat soos ’n groot slagtersmes gelyk het in die een hand en sy ma se afgekapte kop in die ander. Daarna het hy die kop op die grond neergesit.

Die res van Yesenia Funez Beatriz Machado (35) se lyk is in die huis gevind. Haar gesig, sowel as haar lyf, was vermink.

Terry Wright van die plaaslike polisie het die toneel as “grafies en grusaam” beskryf.

Dis nog onbekend hoeveel steekwonde hy sy ma toegedien het of wat die eintlike motief vir die moord was. Volgens die inskrywing op die klagstaat het hy dit glo bloot gedoen omdat hy “so gevoel het”. Hy het haar na bewering minstens agt keer met die mes gesteek.

Oliver se twee jonger susters (blykbaar 2 en 3) was ook tuis tydens die voorval, terwyl sy boetie by die skool was. Sy sussies is nie beseer nie.

Oliver se pa was by die werk en het eers met sy tuiskoms sowat 4 uur later gehoor wat gebeur het. Naasbestaandes en die polisie het hom blykbaar van die toneel af weggelei.

Een van hul ontstelde bure, Ryan Reader, het aan die plaaslike TV-nuuskanaal WTBW gesê hulle buurt is stil en rustig; daarom was hy verbaas toe hy met sy tuiskoms al die polisievoertuie buite sy bure se huis sien.

Dit het intussen aan die lig gekom Oliver is ’n onwettige immigrant van Honduras.

Yesenia word deur ’n familievriend as ’n dierbare mens beskryf – “iemand wat ná aan God was, graag ander met raad bygestaan het en gek daaroor was om te dans”. Volgens haar is Oliver skaars ’n week voor die moord uit ’n psigiatriese inrigting ontslaan.

Oliver word aangekla van die moord op sy ma en sal op 14 Maart weer in die hof verskyn. Hy kan die doodstraf opgelê word sou hy skuldig bevind word.

Bronne: dailymail.co.uk, washingtontimes.com, dailycaller.com, wral.com, wbtw.com