HY LYK hartseer, moeg en verslae toe hy ons by die voorhek van sy huis in Milnerton inwag. Toe ons sy dogter se naam noem, moet hy teen die trane stry.

“Verskoon my asseblief, ek is baie emosioneel,” sê hy terwyl ons die woonkamer binnestap waar vrolike gesinsfoto’s met drie glimlaggende dogters oral tussen gewyde skilderye en ander kosbaarhede teen die mure hang.

Maar die foto’s vertel nie meer die ware verhaal nie, want die gesin is uitmekaar geruk toe Brett Adams* se dogter Joy (16) verlede Desember gevra het om wetlik van haar gesin geëmansipeer te word. ’n Suid-Afrikaanse hooggeregshof het haar toe gedeeltelike onafhanklikheid toegestaan.

Dit is die eerste geval van sy soort in Suid-Afrika, waar ’n tiener die reg gegun is om nie meer by haar ouers te woon nie, omdat sy hulle as te “onderdrukkend” beskou.

Joy bly nou by ’n skoolmaat en haar ma in ’n woonstel in Monte Vista, Kaapstad en sy is in die sorg van dié enkelma. Haar ouers moet haar steeds finansieel ondersteun.

Sy en haar ouers moet mekaar ingevolge die hofbevel ook een keer per week “op ’n neutrale plek” sien, en hulle moet haar twee keer per week bel. Sy ontvang sielkundige behandeling, en die gesin kry gesinsterapie.

“Ek het nooit, ooit gedink dit sal vir ’n hof moontlik wees om my dogter weg te neem nie,” sê Brett kopskuddend. “Maar die seerste, is nie wat sy gedoen het nie. Dis bloot dat sy nie hier is nie.”

Joy skets haar pa in hofdokumente as ’n superstreng pa – ’n man wat weier dat sy by vriende oorslaap, ’n kêrel mag hê of sonder toesig oor die telefoon praat.

Maar hy hou vol hy is bloot lief vir sy kinders en beskermend jeens hulle, omdat hy en sy vrou vir hulle verantwoordelik is.

“Met al my kinders is ek bereid om kwessies, reëls, te bespreek en daaroor te onderhandel. Maar die gevaarlike wêreld waarin ons leef, het my versigtiger gemaak,” erken hy. “Dit lyk vir my hoe gevaarliker die wêreld word, hoe meer wil kinders buite in daardie wêreld wees.”

Joy was ’n baie liewe en gelukkige kind en hulle was na aan mekaar, vertel hy. Maar nou, as tiener, wil sy meer vryheid hê as wat hy en sy vrou bereid is om toe te laat.

Een van die huisreëls waaroor hy nie wou kopgee nie, is dat geeneen van die drie dogters ’n kêrel mag hê voor hulle 18 word nie. “Ek wil hê my dogters moet emosioneel sterk wees voor hulle ’n verhouding aanknoop en ek voel 16 jaar oud is te jonk.”

* Skuilname

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!