Hy huil sommer van pure blydskap net aan die blote gedagte dat hy op daardie groot aand die verhoog met sy gunsteling-sterre soos Kurt Darren en Emo Adams gaan deel, sê die 17-jarige Peter Talmarkes.

Alles het begin toe dié leerder van Bridgetown High in Bonteheuwel vir die Tiener Talent 2010-kompetisie ingeskryf het wat deur die Kaapstadse stadsraad, in samewerking met Shoprite/Checkers, Huisgenoot You en DRUM by Grand West-casino aangebied word.

En nou is dié talentvolle knaap een van  tien finaliste wat elk ‘n splinternuwe Phillips MP3-speler in hul sak steel en boonop die kans van ‘n leeftyd kry om op 13 Maart by Huisgenoot se Skouspel PLUS-konsert op te tree. Dis nog lank nie al nie.

Tydens die 14 Maart-finale by Grand West-casino kry al 10 finaliste weer kans om die verhoog saam met groot sterre soos Kurt, Emo, Snotkop, Sasha-Lee Davids, Andriette Norman en Eden se Jay du Plessis te deel waartydens die wenner aangekondig word.

Dié gelukkige aspirant-sanger neem ‘n vet prys van R6 000 huistoe met R 3000 en R2 000 vir onderskeidelik tweede en derde plek.

Select Musiek sal ‘n liedjie vir die wenner by hul ateljee’s opneem en Huisgenoot/YOU en DRUM druk dan 500 kopië van dié CD wat die wenner kan versprei om sodoende sy sangloopbaan aan die gang te kry.

Volgens Peter is dit sy heel grootste kompetisie nóg. "Jô, die senuwees sal ook maar seker aan die begin daar wees, maar nie omdat ek bang is vir die verhoog nie, nee dan gaan ek eers lekker jol," sê hy blinkoog.

Hy wil heel eerste vir sy ma ‘n huis koop as hy dit eendag groot slaan in die musiekbedryf. ``En sommer ‘n kar ook.

My hele familie is baie trots, alhoewel my tweelingbroer John dit nie gemaak het in die kompetisie nie, staan hy ook 100 persent agter my.’’

Hy wens net die dwelm-misbruik in sy gemeenskap kry einde.

"Daar dink van die ouens mos jy is ‘n sissie as jy sing. Maar ek het hulle mos nou verkeerd bewys. Baie van my pelle tik, gebruik dagga, albei my ouer broers gebruik ook dwelms. En hulle kan tog so mooi sing, ons kan ‘n boyband begin as hulle net van drugs wil los."

Buiten sy stem, hoekom dink hy het hy die paal gehaal?

"Seker maar my persoonlikheid en smile. Ek hoop nie dit geleenthede droog op vir ons sangers van die Kaapse Vlakte nie. Ons het ook groot drome.’"

Die Tiener Talent-finale vind plaas op 14 Maart om 19:00 by Grand West in Kaapstad, kaartjies beskikbaar by Computicket.