Tyerell Przybycien (18) van Spanish Fork in die Amerikaanse deelstaat Utah en sy 16-jarige vriendin het Vrydagaand na die pragtige Maple Lake-kampeerterrein in Payson Canyon gegaan.

Saterdagoggend het jagters haar aan ’n boomtak sien hang.

By haar lyk was twee inkopiesakke met ’n kredietkaartstrokie, ’n briefie en ’n selfoon.

Hulle het dadelik die polisie ontbied.

Van Przybycien was daar aanvanklik geen spoor nie.

Tot hy deur die loop van die oggend na die toneel teruggekeer het terwyl die polisie nog teenwoordig was.

Wat hy hulle meegedeel het, het hulle verstom en geskok . . . Dit sou hy wees wat op ’n inkopietog gegaan het voor die twee Vrydagaand na die meer toe is. Een van die items wat hy gekoop het, was ’n spuitkannetjie wat nywerheidsterk stofsproei bevat het, die soort wat gewoonlik gebruik word om stof, vuiligheid en mikroskopiese rommel van rekenaars af te blaas. Maar hy het ook die tou gekoop waarmee die 16-jarige haar sou ophang – nadat hý die lus geknoop het.

Sers. Spencer Cannon van die Utah-polisiediens meen nie dat Przybycien enigsins sy vriendin sou dwing om haarself op te hang nie. Hy dink ook nie die tiener sou haar gedwing het om die stofsproei in te asem nie.

Maar wat Przybycien wel gedoen het, was om die hele selfdoodpoging met ’n selfoonkamera af te neem.

Sy rede? Die dood boei hom en hy wou sien hoe dit lyk wanneer iemand sterf.

Dié gru-besonderhede het aan die lig gekom nadat polisie die briefie en selfoon by die meisie se lyk verder ondersoek het.

In die briefie word onder meer gesê as enige vrae opduik, moet mense bloot die video kyk.

Volgens die ondersoekbeampte kan duidelik in die video gesien word hoe die meisie met die tou om haar nek op ’n rots staan.

“Hulle praat oor wat hulle doen. Hy vra haar of dit is wat sy wil doen. Maar hy sê haar nie aan om dit nie te doen nie. Hy doen niks om haar te keer nie,” sê Cannon. Przybycien praat met haar en vra haar om iets te sê. In reaksie daarop teug sy diep aan die stofsproei en verloor haar bewussyn. Sy kan haarself nie meer ondersteun nie en bly aan die tou hang tot waar sy sterf. Intussen hou die kamera aan loop. Hy gaan selfs in ’n stadium na haar toe om seker te maak sy is dood. Die video is net oor die 10 minute lank.

Przybycien word nou aangekla weens moord omdat die polisie beweer hy het ’n aktiewe rol in die meisie se dood gespeel.

Bronne: ksl.com,desertenews.com, kutv.com