’n Ondersoek na die dood van die 16-jarige Emily Titterington twee jaar gelede het aan die lig gebring sy was so bang om toilet toe te gaan, sy het geweier om ’n mediese ondersoek te laat doen of behandeling te ontvang wat haar lewe kon red, het The Mirror berig.

Volgens ’n patoloog was die tiener se simptome soortgelyk aan ’n toestand wat bekend is as “stoelgang-terughouding” wat meer dikwels by kinders voorkom.

Sy het gesê aangesien Emily agt weke lank nooit toilet toe gegaan het nie, het haar dikderm só vergroot dat dit haar borskasholte in so ’n mate saamgepers het dat haar ander organe verplaas is.

’n Nadoodse ondersoek het getoon Emily het ’n “massiewe uitsetting van die dikderm” gehad en dit het tot die hartstilstand gelei.

Die tiener – wat ook aan ’n ligte vorm van outisme gely het – het die grootste deel van haar lewe probleme met haar dikderm gehad, maar dit is nooit gediagnoseer nie. Sy is eindelik op 8 Februarie 2013 in haar huis in Cornwall oorlede.

Die gesin se huisdokter het gesê hy het voorheen vir Emily lakseermiddels voorgeskryf, maar hy kon haar as gevolg van haar fobie nooit ondersoek nie.

Bronne: news.com.au, mirror.co.uk