’n Negentienjarige tiener van dié stad in die deelstaat Noordryn-Wesfale het sy afgryslike daad in wat bekend staan as ’n “snuff film” aanlyn gedeel. Die tiener, nou bloot bekend as Marcel H., het die seun glo meermale met ’n mes aangeval en die hele voorval verfilm. Hy het die video van die moord gedeel op die donker web, die deel van die internet wat nie toeganklik is deur soekenjins soos Google nie.

Dit was juis een van die gebruikers van dié netwerk wat daardie bloedstollende oproep omstreeks 18:35 Maandagaand na die polisie gemaak het. Luidens berigte ken hy Marcel. Dié het na bewering ná die moord aanlyn in ’n kletskamer gespog met sy gru-daad en ingenome met homself beeldmateriaal van sy bloedbesmeerde hande gedeel.

Die polisie het die lyk van sy negejarige slagoffer sowat twee uur later in die kelder van Marcel se huis gekry. Daar bestaan nog nie ’n regstreekse verband tussen die tiener en sy vermeende slagoffer nie. Die kans is goed dat hulle in dieselfde gebied gewoon het. Webtuistes het berig dat die slagoffer dalk die kind van Marcel se bure kon wees.

Die polisie het wel die video gesien, maar van die beeldmateriaal “is beelde wat geen mens ooit wil sien nie”. Vermoedelik is die seun nie lank aangehou nie omdat hy nie as vermis aangemeld is nie.

Marcel was glo werkloos ten tyde van die voorval en nie baie bekend in die omgewing nie.

Hy het na bewering gekleed in kamoefleerdrag gevlug. Sover bekend is die bebrilde tiener ’n gevegskunsgeesdriftige. Die polisie bestempel hom as gevaarlik. Dit nie bekend of hy gewapen is nie.

Donker web (dark net)

Dis ’n netwerk wat slegs met spesifieke sagteware, konfigurasies en/of magtiging besoek kan word. Dit word ook as ’n ondergrondse “toevlug” vir kuberkrakers, pedofiele, dwelmhandelaars, sluikhandelaars en dergelike misdadigers gebruik.

Bronne: Derwesten.de, wize.life, boevennieuws.nl, focus.de, dailymail.co.uk