’n Sestienjarige meisie van Michigan het 10 maande lank gemaak of sy swanger is met hulpmiddels wat sy op die webtuiste FakeABaby.com gekoop het.

Die meisie – wie se naam nie genoem mag word nie omdat sy minderjarig is – het ultraklankbeelde, positiewe toetse, swangerskapboepe en ander materiaal gekoop om niksvermoedende familie en vriende om die bos te lei.

Sy het selfs aangesluit by ’n Facebook-steungroep vir vroue wat ’n drieling verwag.

Namate haar maag groter geword het, het sy geskenke en geld van bure en familielede aanvaar.

“Ek het begin werk soek,” sê Jordan, die meisie se kêrel (ook 16).

“Ek dink nie enigiemand moet dit beleef nie,” sê hy, en voeg by die twee het selfs name vir hul kinders gekies: Ivan, Alice en Isabella.

“Dit alles oor ’n webtuiste . . .”

Luidens berigte het die tiener se skelmstreek agterdog gewek toe sy foto’s van haar vals ultraklankondersoek op die Facebook-groep Moms of Triplets plaas. Een van die ma’s het opgemerk die ultraklankbeeld is nie eg nie en die tiener se familie ingelig.

Op die dag voor die tiener deur middel van ’n keisersnee aan die drieling die lewe sou skenk, het sy glo aan haar gesin gesê sy het ’n miskraam gehad.

Toe sy mediese aandag weier, het haar familie die polisie gebel. Toe hulle haar ondervra, het sy beweer sy was swanger, maar het die babas op ses weke verloor.

“Sy het vir niemand gesê nie. Sy was bang en het nie geweet wat om te doen nie,” sê haar broer.

Die polisie ondersoek steeds die saak van die geskenke en geld wat sy onder valse voorwendsels aanvaar het.

Bronne: huffingtonpost.com, fox2detroit.com, cosmopolitan.com