Jayde Dinsdale (18) het die mengeldrankies, wat gewoonlik van die sterk drank Jägermeister en energiedrankies gemaak word, op ’n aand uit saam met vriende gedrink. Nadat die alkohol se uitwerking afgeneem het, het die kafeïen in haar gestel haar hart gevaarlik vinnig laat klop.

Haar beangste ouers het haar twee hartaanvalle sien kry terwyl hulle paniekerig kunsmatige asemhaling toegepas het om haar aan die lewe te hou.

Jayde, wat in die ure daarna nog ’n hartaanval gehad het, is in ’n koma gehou en was drie weke in die hospitaal voor dokters ’n pasaangeër vir haar ingeplant het.

Sy waarsku nou ander jong mense om die drankie te vermy. Dis ’n mengsel van ’n sopie Jägermeister en ’n halwe blik Red Bull.

Die meeste mense kan matige hoeveelhede kafeïen hanteer, maar “oormatige inname” kan toevalle, beroertes en skielike sterfte veroorsaak.

Bronne: News.com.au, Daily Mirror