Nadat Hannah Moore (19) van Dorset, Engeland in 2012 nie meer die ongemak van ’n ingroeitoonnael kon verduur nie, het sy dit laat verwyder. Nou, vier jaar later, het sy gedoen wat dokters haar aangeraai het om nooit te doen nie: sy het haar onderbeen laat amputeer.

[caption id="attachment_139675" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Enkele dae ná haar operasie om haar ingroeitoonnael te verwyder het sy kwaai pyn in haar regterbeen ervaar en die geringste beweging het haar tot trane gedryf. Boonop was daar geen teken van ’n infeksie nie.

Ná vele doktersafsprake het dokters ’n diagnose gemaak: Hannah het komplekse regionale pynsindroom (CRPS) ontwikkel wat in haar geval deur ’n klein operasie veroorsaak is. CRPS is ’n chroniese pyn wat gewoonlik een van die ledemate affekteer ná ’n besering en in Hannah se geval was dit in haar been ná haar operasie.

Twee jaar ná haar diagnose vertel sy oor haar stryd teen die seldsame siekte wat haar lewe oorgeneem het.

In 2014 het sy ’n swart kolletjie op haar voet opgemerk, maar nie gedink iets is noodwendig fout nie.

Tot die kolletjie ’n paar dae later ineenstort en ’n klein gat in haar voet los wat net dieper en breër geraak het, vertel sy.

Kort daarna het sy drie maande in ’n hospitaal deurgebring om veloorplantings en herkonstruksiewerk aan haar voet te laat doen.

“Dit was ’n aaklige en skrikwekkende tyd,” onthou sy.

[caption id="attachment_139677" align="alignnone" width="600"]Hannah moes gereeld haar gips laat skoonmaak waar die 'gat' was. Foto: Facebook Hannah moes gereeld haar gips laat skoonmaak waar die 'gat' was. Foto: Facebook[/caption]

Lees ook: Ma breek eie dogter se been meer as 300 keer om te keer dat dit afgesit word

Dit was kort voor Kersfees toe haar voet mooi gesond is en sy huis toe kon gaan om by haar gesin te wees. Maar toe sy haar studie in die nuwe jaar hervat, het haar nagmerrie van vooraf begin toe ’n kolletjie weer op haar voet verskyn wat ’n oop seer word. Dokters het haar been in gips gesit om te verhinder dat die seer verder oopskeur.

“Nadat die gips aangesit is, het my depressie ondraaglik geraak. Ek was op die punt om op te gee. Ek was uitgeput – emosioneel en fisiek,” skryf sy. Hoewel haar depressie vererger het, het sy kop bo water gehou en ’n lig aan die einde van die tonnel gesien.

Hannah het voorheen vir agt jaar karate beoefen en toe navorsing oor sport vir gestremdes gedoen om haar aandag af te lei. ’n Rolstoel-renklub naby haar huis het haar met ope arms verwelkom en dis hier waar sy haar kêrel, Dan, ontmoet het.

[caption id="attachment_139672" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

In Maart vanjaar het Hannah (nou 19) op haar blog gedeel oor haar besluit om eerder haar been te laat amputeer as om verder met die pyn saam te leef.

“Ek weet dis moeilik vir sommige mense om te verstaan waarom iemand ’n gedeelte van hul ledemaat wil laat verwyder,” skryf sy. Sodra iemand hoor van haar planne is hul reaksie gewoonlik: “O nee! Jy wil nie dit hê nie!” sê sy.

Maar Hannah staan by haar besluit om haar been van haar knie te laat amputeer. “Die grootste rede is die gehalte van my lewe,” bieg sy.

Lees ook: Dramatiese wending in driebeen-kankerhond se ‘laaste reis’

“Op die oomblik neem die toestand my lewe oor en ek is nie in staat om baie goed te doen wat ’n 19-jarige meisie wil doen nie,” sê sy.

Sy moes weekliks Londen toe reis om haar gips onder narkose om te ruil. Sy moes op haar krukke staatmaak om te beweeg en kon net kort afstande stap voor sy moeg geraak het.

Hannah het besluit om haar geldjies bymekaar te skraap en met die finansiële hulp van haar familie het sy sowat R87 550 (£5 000) vir ’n privaat dokter betaal om haar been te amputeer ten spyte van dokters wat haar aangeraai het om dit nie te doen nie. Die moontlikheid dat die pyn in die res van haar been kan versprei, was baie goed, maar Hannah het deurgedruk.

[caption id="attachment_139676" align="alignnone" width="601"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

“Dokters en spesialiste het my gewaarsku ’n amputasie kan lei tot pyn in die res van die ledemaat, maar ek was bereid om die risiko te loop. Gelukkig is ek sedertdien sonder pyn en nou is ek eindelik besig om op te maak vir die verlore tyd,” sê sy.

“Dit was ’n belangrike besluit, maar ek het geweet sonder my been wat geen doel gehad het nie, sou ek ’n beter lewe kon lei.”

[caption id="attachment_139671" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Sy was jare lank aan ’n rolstoel gekluister, maar het intussen prostese ontvang waarmee sy gereeld oefen. “Ek het nie voorheen geleef nie; nou is die moontlikhede eindeloos en ek kan nie wag om my drome te bewaarheid nie.”

Hannah is gereed om haar lewe terug te neem en dit te geniet.

[caption id="attachment_139674" align="alignnone" width="599"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Bronne: mycrpslife.blogspot.co.za, facebook.com, dailymail.co.uk