Donderdag omstreeks 15:00 het die tiener en ’n vriend van die skool af huis toe gestap toe ’n kar langs hulle in Beyers Naude-rylaan, tussen die Wespark-begraafplaas en die Emmarentia-botaniese tuin, gestop het, het Amanda Forsythe, raadslid vir wyk 87, gesê.

’n Man het uit die motor gespring en die tiener se selfoon gegryp, het ooggetuies vir Forsythe vertel.

“Die dapper kind het teruggeveg en probeer om sy selfoon terug te kry. Hy het aan die voertuig vasgegryp toe dit wegjaag.”

Die tiener het aan die motor bly hang en is sowat 70 m gesleep voordat die misdadigers hom van die kar weggestoot het.

’n Verbygaande motoris, wat hom gesig na onder in die pad sien lê het, het gesê die tiener het aanvanklik nie gereageer nie en sy neus was bebloed.

Die seun is na die Helen Joseph-hospitaal geneem.

Ao. Richard Munyai het bevestig die polisie was op die toneel, maar dit was nie onmiddellik duidelik of ’n saak geopen is nie.

Die Hoërskool Roosevelt se adjunkhoof, Henk Ferreira, het gesê die skool is geskok deur die voorval en bekommerd oor die veiligheid van sy leerders wanneer hulle die skoolterrein verlaat.

“Ons gaan briewe uitstuur sodat die ouers van die gevare kan weet… Dis ’n aanduiding van die tyd waarin ons lewe.”

Die leerders is aangeraai om in groepe huis toe te stap en waardevolle items weg te bêre om nie misdadigers se aandag te trek nie.

Forsythe het gesê daar was ’n aantal straatrooftogte in naburige gebiede waar dieselfde opgetree is.