Die hooggeregshof het beslis daar is genoegsame rede om Michelle Carter te vervolg nadat sy glo twee jaar gelede haar kêrel, Conrad Roy, in ’n rits SMS’e aangespoor het om sy eie lewe te neem. Michelle was toe 17.

Michelle het onder meer vir Conrad gesê: “Vanaand is die aand; dis nou of nooit” en “Jy gaan gelukkig wees in die hemel.”
Toe Conrad vasskop en noem hy is bekommerd oor sy gesin, het Michelle gesê: “Ek sal na hulle omsien. Ons het hieroor gepraat en hulle sal oukei wees en dit aanvaar. Mense wat hulself om die lewe bring oordink dit nie so baie nie. Hulle doen dit net.” Staatsaanklaers hou vol Michelle se boodskappe was die finale oortuiging wat Conrad nodig gehad het om die daad uit te voer.
Hy het eindelik in die parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Fairhaven, Massachusetts, sy eie lewe geneem. Kort ná sy dood het dit aan die lig gekom dat Michelle die verdoemende teksboodskappe aan hom gestuur het. Michelle se regspan voer aan haar boodskappe vorm deel van spraakvryheid en dat dit nie Conrad se dood veroorsaak het nie. Hulle noem verder Michelle het Conrad aanvanklik probeer keer en hom eers begin steun nadat dit duidelik geword het hy sou nie van plan verander nie.

Die New York Daily News berig die hof het nog nie beslis oor Michelle se skuld of onskuld nie, maar bloot net uitgewys daar is genoeg bewyse om met ’n verhoor voort te gaan.

Benewens die boodskappe wat tussen Michelle en Conrad gestuur is, fokus staatsaanklaers ook op ’n telefoongesprek wat die twee gehad het terwyl hy kort voor sy dood in sy motor gesit het.

Terwyl sy motor met koolstofmonoksied opgevul het, het Conrad glo vir Michelle gebel en gesê hy is te bang om voort te gaan. Dis toe dat sy hom glo prontuit aansê om terug te klim in sy motor.

Die paartjie het mekaar twee jaar voor Conrad se dood ontmoet, maar volgens hofdokumente het hulle mekaar net ’n paar keer gesien, omdat hul verhouding grotendeels uit SMS’e en e-posse bestaan het.

Gregg Miliote, ’n woordvoerder van Bristol se distriksprokureurskantoor, het gesê hulle waardeer die feit dat die hof beslis het om Michelle aan te kla, ten spyte van haar appèl.

Hulle sal nou fokus op die voorbereiding vir die verhoor, het Gregg gesê.

So is verlede jaar oor die saak berig.

Bronne: Daily Mail, New York Daily News, Inquisitr.com