'n Kanadese tiener is die naweek doodgeskiet nadat hy die opsporingsapp van ’n selfoon gebruik het om die gesteelde toestel terug te kry.

Volgens polisiebeamptes van die stad London in die Kanadese deelstaat Ontario, het Jeremy Cook, 18, per ongeluk sy slimfoon in 'n taxi vergeet.

Hy het ’n opsporingsapp gebruik en die selfoon op ’n parkeerterrein agter ’n winkelsentrum in die noorde van die stad opgespoor.

Volgens die polisie word die ware toedrag van sake nog stuk vir stuk ondersoek.

Jeremy en ’n familielid het Sondagoggend ongeveer 5-uur op die aangeduide plek aangekom en drie mans daar in 'n motor gevind.

“Daar het toe ’n stryery oor die selfoon ontstaan,” lui ’n verslag van die polisie.

“Die voertuig het begin wegry. Die slagoffer het toe opgeklim aan die motor en aan die sydeur aan die bestuurder se kant vasgehou.” Skote is afgevuur en Jeremy is verskeie kere getref. Hy het op die toneel gesterf.

Die polisie sê hulle het die verlore selfoon teruggevind. Die verlate voertuig is ook daar naby gevind, waar dit deur 'n heining gebars en ’n telefoonpaal getref het.

Volgens die polisie soek hulle drie mans tussen die ouderdomme 18 en 21 jaar.

Bronne: Huffington Post Canada, Daily Mail