Die tienerjare is uitdagend vir ouers en hul tieners. Perke word dikwels uitgedaag en reëls oortree in ’n poging om die wêreld te verstaan. Maar sê nou ’n onskuldige eksperiment met ’n drankie af en toe word ’n ernstige probleem?

Janice C., die openbare uitreikkoördineerder van Alkoholiste Anoniem, ’n ondersteuningsgroep vir geliefdes van alkoholiste, verduidelik alkoholisme is ’n aggressiewe siekte wat met sosiale drinkery kan begin. “Alkohol is ’n stof wat jou brein verander,” sê Janice. Sy verduidelik dit raak almal nie dieselfde nie en kan ’n ernstiger uitwerking hê op mense met ’n genetiese geneigdheid tot alkoholisme.

“Jy kan net iemand help wat bereid is om gehelp te word,” sê Janice. Wat behandeling betref, voeg sy by dat as die tiener minderjarig is, kan ’n ouer ’n hofbevel verkry om hulle in ’n rehabilitasiesentrum te laat opneem.

Peter* het sy eerste bier gedrink toe hy maar 16 jaar oud was. “Ek het ’n bier saam met vriende gedrink en kort voor lank het een blik bier twee geword, twee het vier geword, vier het agt geword, en voor ek my kom kry, het ek my drankies gemeng en wodka, whiskey en ander sterk drank gedrink.” Hy het vir die pret begin drink, maar dit het heel gou in volslae alkoholisme ontaard.

“My pa en oupa het gereeld gedrink, maar hulle het nie oormatig gedrink nie. Ek het nie besef toe drank my begin beheer nie. Ek het net gedink ek boots hulle na,” sê hy.

Weens sy drankprobleem is Peter geskei en het hy toesig oor sy seuns (nou 14 en 12) verloor. “Alkoholisme het my magteloos gemaak; ek was nie destyds toegerus om dit te beheer nie,” sê hy. Hy is nou ’n lid en vrywilliger van Alkoholiste Anoniem. Peter is al vier jaar nugter.

Janice verduidelik dat alkoholisme ’n merkbare verandering in jou persoonlikheid veroorsaak. “Party mense word stil, ander toon geweld, en party word die middelpunt van elke partytjie.” Elke tiener is uniek, maar ouers moet op die uitkyk wees vir persoonlikheidsveranderinge soos die volgende:

Wees op die uitkyk vir hierdie tekens

  • Jy kom agter jou tiener drink gereelder.
  • Daar is ’n verandering in jou tiener se persoonlikheid.
  • Jou kind se gesig lyk opgeswel en sy vel rooi.

(Let daarop dat hierdie tekens nie noodwendig met alkoholisme verband hou nie.)

“Al wat jy kan doen, is om vir jou kinders leiding te gee. Jy kan hom aanspreek, sy drank afvat of hom belet om die huis te verlaat, maar jy kan hom nie beheer nie. Jy kan hom net help as hy hulp wil hê,” sê Janice.

Peter meen waardes en sedes is uiters belangrik by die grootmaak van kinders. “Hoe meer liefde jy aan jou tieners betoon, hoe meer begrip, verdraagsaamheid, bewustheid en kommunikasie deel jy en hoe groter is die kans dat jy so ’n probleem sal kan vermy.”

Hanteer tiener-alkoholisme so

  • Voed jouself op oor alkoholisme as ’n siekte.
  • Praat met jou tiener oor alkoholisme en verduidelik hoe die siekte verloop.
  • Hou die kommunikasiekanale met jou tiener oop.
  • Kry hulp sodra jy vermoed daar is ’n probleem. Bel Al-Anon/Alateen by 0861-252-666. Dis ’n 24-uur-hulplyn.

* Skuilnaam.

- Megan Bursey