“Daar is baie suksesvolle mense wat baie geld gemaak het, maar nooit hul voete op universiteit gesit het nie,” sê Alex. Wat is dan die sleutel tot sukses? Alex deel sy top-10 wenke:

Hou altyd aan leer

Moet nooit dink jy weet alles nie; daar is altyd iets nuuts wat jy kan ontdek. Enigeen kan jou iets leer.

Vra altyd hoekom

Wees nuuskierig en vind uit. ’n Mens kry nie iets soos ’n dom vraag nie. Jy sal verbaas wees hoeveel mense bereid is om jou te help, sonder vergoeding!

Leer uit ander se foute

Dis ’n goeie idee om ’n mentor te hê terwyl jy jonk is, iemand wat jou touwys kan maak en uit wi se ervaring jy lesse kan leer. Dis duur om moeilike lesse in die sakebedryf te leer; leer liewer uit ander se foute.

Jou houding bepaal alles

Moenie toelaat dat jou agtergrond of ander uitdagings ’n verskoning raak nie. Talle suksesvolle mense moes baie struikelblokke oorkom sodat hulle sukses kon behaal. Jou houding moet altyd wees: Ja, ek kan!

Jy moet hard werk

Werk is nie kinderspeletjies nie; net harde werk sal jou beter as jou mededingers maak. Daar is geen plaasvervanger vir harde werk nie.

Ken jou waardes

Maak seker jou optrede getuig daarvan dat jy betroubaar, eerlik en fluks is. En wees altyd betyds! Die wêreld gaan nie wag tot jy jou sokkies opgetrek het nie.

Wees ekonomies

Moenie onnodig geld uitgee nie, veral wanneer jy ’n nuwe onderneming begin. Pasop vir lenings en skuld. Geld bespaar sal jou dissipline leer.

Kommunikeer

Praat met mense en prys hulle vir goeie werk. Mense geniet dit om met ander te werk wat hul behoeftes duidelik kommunikeer en hul harde werk raaksien.

Beoefen verskeidenheid

Almal hou van mense wat nes hulle dink, maar dis belangrik dat ’n mens na meer as een mening luister. Jy sal nooit al die antwoorde hê nie. Dalk kan iemand met ’n ander mening ’n interessante oplossing bedink.

Bou verhoudings

Om ’n suksesvolle besigheid te bestuur moet jy mense hê wat jy kan vertrou om die werk te doen. Sake gaan nie oor geld of bankstate nie; dit gaan oor verhoudings.

- Kirstin Buick en Shané Barnard