Laai die basiese weergawes van die apps gratis in die App Store af.

1. Nighty Night

Met dié pragtige slaaptydstorie kan jou kleinding al die plaasdiere lekker warm toemaak vir die nag. Terwyl julle die plaasdiere se liggies een-een afskakel, maak dit jou kind gemaklik met die idee dat jy haar kamerlig vir die nag gaan afskakel.

2. Talking Tom 2

Sommer net ’n bietjie pret. Dié astrante katjie na-aap alles wat jy sê.

 3. Twinkle Star

Nog ’n oulike slaaptydstorie wat jou kind terselfdertyd oor sterrestelsels leer. Teken prentjies van die verskillende stelsels deur ’n verbind-die-kolletjie-speletjie.

4. Get Dressed

Leer jou kind speel-speel self aantrek. Seuns en dogters kan self die ontwerp en kleur van hul klere kies en moet dit dan in die regte volgorde aantrek.

5. Ladybug

Dié app bevat ’n oulike liedjie wat jou kleuter leer waar al die verskillende liggaamsdele is wanneer die liewenheersbesie oral op jou lyf kom “sit”.

6. Vocal Zoo+

’n Eenvoudige app wat ideaal is om jou heel klein peuter oor dieregeluide te leer. Klik op die foto’s van verskillende mak- en wildediere en luister na die geluide wat hulle maak.

7. Bus

Leer die deuntjie van The wheels on the bus go round and round. Dié app sal jou kleinding ook die basiese bewegings leer waarmee ’n mens enige app of speletjie op die iPad navigeer.

8. Paper Dolly

Soortgelyk aan Get Dressed, maar effens meer gevorderd. Jou kind kan die geslag, haarstyl, bykomstighede en selfs troeteldier kies. Wanneer klere vuil is, leer hulle dit sommer in die wasgoedmandjie gooi.

9. Little Pigs

Vertel die storie van die drie klein varkies as jou eie poppekas-verhaal. Vee oor die skerm om na die volgende toneel toe te gaan en neem dan ’n foto van elke toneeltjie.

10. MusicSparkle

Met ’n bietjie pret kan jy ontdek of jou kleuter dalk ’n musiektalent het, van tromme en saksofoon tot klavier.

- Shané Barnard