1. Drink baie water: In die winter is ’n mens geneig om minder water te drink as in die somer, maar dit is baie belangrik vir die liggaam se optimale funksionering. Slymvliese wat nie uitgedroog is nie, is plomp en weerstandiger teen infeksie; dit gaan ook jou liggaam van skadelike stowwe ontslae help raak.
  2. Oefen, oefen, oefen: Oefeninge verbeter ’n mens immuunstelsel en sorg dat jy dadelik meer energie het. Moenie dat jou kinders die hele winter voor die televisie lê of voor die rekenaar sit nie; laat hulle ’n bietjie buite gaan speel of stap.
  3. Was jou hande: Die eenvoudigste wapen om jou en jou gesin teen die kiemmonster te beskerm, is om gereeld en deeglik hande te was. Was elke keer dat jy nies, neus blaas of hoes, en wanneer jy uit was en weer huis toe kom. Hou ook antibakteriese vogdoekies in jou handsak.
  4. Laat waai met die knoffel: As jy nie bang is dat jou kollegas jou dae lank sal vermy nie, kan jy maar laat waai met die knoffel in jou kos of drink ’n paar knoffelpille. Dit werk uitstekend om verkoue en griep te voorkom en versterk ook sommer jou immuunstelsel.
  5. Neem baie vitamien C in of kry ekstra aanvullings: Probeer elke dag ’n vitamien C-ryke kossoort by jou gesin se maaltyd insluit. Vars vrugte soos lemoene, nartjies, koejawels, broccoli en patats is alles goeie bronne.
  6. Gaan vir ’n griepinspuiting: Hoewel ’n griepentstof geen waarborg is dit jy nie verkoue sal kry nie, verminder dit steeds jou kans en is tussen 70% en 90% doeltreffend. Dis ook heeltemal veilig vir jou kinders.
  7. Kry genoeg slaap: Kruip die winter vroeg in, want te min slaap verswak die werking van jou immuunstelsel se natuurlike witbloedsel-vegters met tot 30%. Maak seker jou kinders slaap meer as agt uur, en wanneer jy saans gaan slaap, gooi ook ’n bietjie bloekomolie op jou kussing. Jy sal dit heelnag inasem; dit maak jou kop en neus oop en sal gou ’n verkoue breek.
  8. Hou suigtablette met sink byderhand: Sodra jy begin hoes of snuif, suig ’n suigtablet en die verkoue sal nie lank hou nie en ook nie te erg wees nie, het navorsing bevind.
  9. Voorkom klammigheid in die huis: Vogtige omgewings in en om die huis kan kieme lok en verkoue veroorsaak. Laat daar vars lug by die huis intrek deur die badkamervenster of agterdeur ’n tydjie oop te los.
  10. Hou die huis skoon: Maak die oppervlakke in die huis gereeld skoon, soos die stort, toilet en wasbak, om van onnodige kieme ontslae te raak. Was ook gereeld die handdoeke en beddegoed.

- Janine Nel

Bronne: yourparenting.co.za, hygizone.com, health24.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.