Kom ons wees eerlik: Moederskap is een van die stresvolste take ter wêreld. Dit is ook dikwels ’n ondankbare taak. En al is dit lekker om soms ’n bietjie bederf te word, is dit jou verantwoordelikheid om ontslae te raak van stres voor dit jou gesondheid affekteer.

Hier is 10 maniere waarop jy stres uit jou lewe kan sny:

1.      Kry ’n afblaasroetine: Raak gemaklik sodra jy ná werk by die huis kom. Skop jou skoene uit, vergeet van werk en trek iets gemakliks aan.

2.      Vat dit buite: Vitamien D is die beste antidepressant. Speel buite met jou kinders: asem die vars lug in, luister na die voëlsang en voel die vars gras op jou vel. ’n Verandering in jou omgewing gaan jou bui ’n hupstoot gee en stresvlakke laat daal. En jou kinders gaan dit geniet om tyd met jou deur te bring.

3.      Neem ’n mini-vakansie: ’n Week verlof klink dalk idillies, maar dit kan jou gespanne laat voel. En as jy kinders van skoolgaande ouderdom het, word jy beperk tot skoolvakansies, wat jou baie uit die sak gaan jaag. Neem eerder oor naweke ’n mini-wegbreek. Dit is ’n wonderlike geleentheid om gereeld jou batterye te herlaai sonder dat jy met jou terugkoms met e-posse toegegooi is nie. Maar dit is belangrik dat jy iets nuuts en opwindends doen, soos om nuwe restaurante te beproef, jou stad weer te verken, ’n langnaweek by ’n bed-en-ontbyt deur te bring of te gaan kamp.

4.      Reik uit: Daar is ’n welbekende spreekwoord, geen man is ’n eiland nie, en dit is die waarheid. Dit is hoekom ons familie en vriende het; niks laat jou beter voel as om jou beste vriendin se stem te hoor of aan ’n koppie van jou ma se sop te smul terwyl jy haar wyse raad inwin nie. Dit kan jou stres en spanning verlaag.

5.      Ontkoppel: Jy is seker al so gewoond aan die aanhoudende gepiep van jou foon dat dit jou nie meer affekteer nie, maar dit kan soveel stres veroorsaak. As dit nie ’n e-pos, oproep of SMS is nie, is dit ’n WhatsApp-boodskap of ’n Facebook-kennisgewing wat jou aandag verg. Moenie so onder druk voel om almal die hele tyd te antwoord nie, veral as jy as gevolg daarvan ly nie. Ontspan, jy kan nie altyd almal tevrede stel nie. Blokkeer kennisgewings en e-posse ná ’n vasgestelde tyd; jy hoef byvoorbeeld nie ná negeuur saans beskikbaar te wees nie. Jy kan by die werk ook die roetine vasstel dat jy e-posse uurliks lees, pleks dat jy dit lees soos dit inkom. Dit sal jou produktiewer maak en jou nie laat voel asof jy nie genoeg tyd het om by alles uit te kom nie.

6.      Kry ’n balans: Moenie jou naweek bestee aan aktiwiteite wat jou Sondagaand pootuit gaan laat nie. Kry ’n balans: ’n besige Saterdag en ’n rustige Sondag kan werk. Maar neem tyd af, selfs van die pret aktiwiteite; dit tap ook jou energie. Ontspan; eenvoudige plesiertjies soos ’n koppie tee, ’n piekniek, ’n goeie boek of om ’n bietjie te brei laat jou ook ontspan.

7.      Kry ’n stokperdjie: Laat jou brein rus met iets wat jou gelukkig maak. Probeer verskeie aktiwiteite tot jy die een gekry het wat jou gelukkig maak: joga, voetslaan, brei, tuinmaak, bak en verf.  Al vind jy nie aanklank by een van die aktiwiteite nie, gaan jy tog stres ontlaai.

8.      Laat spanning in sy spore vassteek: Herken die tekens en smoor dit in die kiem voor jy heeltemal kop verloor. Loop ’n ent; dit verrig wondere vir jou gemoed. Doen meditasie of ’n paar asemhalingsoefeninge by jou lessenaar as jy nie baie tyd het nie.

9.      Ontsnap en rus: Maak jou brein weer vars deur ’n ruk nie aan werk te dink nie. Kom uit die huis en ervaar iets wat jou wegvoer, soos ’n fliek, kunsuitstalling, komedievertoning of sportwedstryd.

10.  Wees dankbaar: Kry ’n dagboek en skryf al jou seëninge neer. Dit klink simpel, maar die oorsake van spanning en stres lê dikwels in perspektief. Wanneer die lewe moeilik is, fokus ons so dikwels op dit wat dit op daardie tydstip moeilik maak. Maar dié dagboek gaan dit moontlik maak dat jy elke dag balans en perspektief behou deur te fokus op dit waarvoor jy dankbaar is. Jy gaan besef dat alles nie verlore is nie en dat elke wolk ’n silwer randjie het.

- Faiza Mallick