Jou baba is ses maande oud en jy oorweeg dit om hom aan vaste kos bekend te stel, maar wil nie begin met verwerkte, massavervaardigde kos nie. Ons deel 10 idees vir basiese kos wat veilig én voedsaam is.

  1. Piesang: Druk dit fyn of gee vir jou baba ’n klaar gesnyde stukkie piesang.
  2. Avokado: Sny in stukkies of druk fyn met ’n klein bietjie suurlemoensap.
  3. Murgpampoentjie: Stoom liggies en meng tot sagte massa of gee vir jou baba ’n stuk waaraan sy kan suig. Hou hom net  fyn dop ingeval sy stukkies afbyt wat kan lei tot verstikking.
  4. Patat: Heerlik as dit met ’n stukkie botter fyngedruk word.
  5. Appel: Lekker gekook en fyngedruk. Dit maak dit makliker vir baba om te verteer en bevat geen preserveermiddels of bymiddels nie.
  6. Peer: Nes appels, kan pere ook gekook en fyngedruk word en dit is van nature lekker soet.
  7. Wortels: Stoom of kook wortels en druk fyn saam met murgpampoentjies vir ’n gesonde groente-bederfie.
  8. Pampoen of botterskorsie: Heerlik fyngedruk of gemeng met ’n bietjie botter.
  9. Broccoli: Dit kan met wortels, murgpampoentjies en pampoen, of op sy eie geëet word. Stoom en laat afkoel voor jy dit aan die baba gee.
  10. Aartappel: Gekook en fyngedruk, sit voor saam met botter of ’n klein bietjie melk.

Topwenke

  1. ’n Menger is baie nuttig wanneer jy babakos maak, maar ’n vurk werk ewe goed. Wees net versigtig, want groot, harde stukke kan verstikking veroorsaak.
  2. Wag vier dae nadat jy die eerste kos aan die baba bekendgestel het voor jy haar nog nuwe kos gee. Dit gee die kleinding se spysverteringstelsel kans om daaraan gewoond te raak en gun jou genoeg tyd om te monitor of daar enige allergiese reaksies op nuwe kos is.
  3. Probeer geurmiddels uitlaat en as jy iets in die kos wil sit, hou by sout en suiker, maar net as dit regtig nodig is. Dit sal jou baba tyd gee om aan die kos self gewoond te raak voor hy ’n suikertand ontwikkel.
  4. Daardie eerste smakie van vaste kos is baie belangrik. Webmd.com stel voor dat jy nie die eerste vaste kos gee wanneer die baba vol is (hy sal nie dan daarin belangstel nie) of baie honger is nie (hy is dalk gefrustreerd omdat hulle nie versadig voel nie).

Ekstra bron: wholesomebabyfood.momtastic.com

-Dalena Theron