Die familie van ’n egpaar van Bosbokrant sukkel om te verstaan waarom Andries Lekwadi sy vrou, Phindile Lekwadi (62), vermoor het. Hy het haar Dinsdagoggend met ’n byl doodgekap.

Lekwadi, van Majembeni buite Bosbokrant, het sy eie lewe geneem nadat hy sy vrou doodgemaak het.Volgens ’n familielid, Piet Mashego, het Lekwadi jaloers en kwaad geraak toe ’n man geld by sy vrou kom haal.

“Ons is diep hartseer as ’n familie. Ons het nooit so iets verwag nie. Ons is magteloos,” sê Mashego.

Hy sê Lekwadi het die egpaar se 10 kinders wees gelaat. 

“Die impulsiewe besluit wat my neef geneem het om sy vrou se lewe en sy eie te neem, was uiters selfsugtig, want hy is nie God om te besluit wie sterf en wie leef nie,” sê hy.
 
Volgens Ndlovukazi Mashele, woordvoerder van die Bosbokrant-polisie, is ’n geregtelike doodsondersoek geopen. 

“Ons het nog nie vasgestel wat sy dood veroorsaak het nie. Daar word vermoed hy het dalk ’n oordosis pille gedrink nadat hy sy vrou se lewe geneem het. Ondersoeke word nog in hierdie stadium uitgevoer.”