Die hof het gehoor Fanie het vir die polisie drie verskillende weergawes van die gebeure die aand waarop sy gesin vermoor is, gegee.

Hy het eers aan die polisie gesê inbrekers het die moorde gepleeg. Maar toe hy van die polisiekantoor af terugkeer, het hy sy weergawe verander en Nigeriese dwelmbase vir die misdade blameer. ’n Dag later het hy sy weergawe weer aangepas en toe Libanese dwelmbase die skuld gegee. Na afloop van verrigting Vrydag, 21 Oktober, het die staat sy saak afgesluit.

Tien goed wat jy sover van die saak moet weet:

1. Het Fanie du Preez gejok oor die moorde in ruil vir borgtog? Fanie het getuig ene a.o. Alberts het te kenne gegee hy sou op borgtog vrygelaat kon word as hy ’n bekentenis aflê. Hy het aangedui dat hy die bekentenis op 4 Desember 2015 afgelê het omdat hy getraumitiseerd en bang was oor die moord.
2. Fanie het ook beweer dat hy nie by sy volle positiewe was toe hy sy bekentenis aan landdros Lourens gemaak het nie. 3. Op Donderdag, 20 Oktober, verskyn Joan van Wyngaard in die getuiebank. Sy is Fanie du Preez se ma. Joan het getuig a.o. Alberts het nie gesê sy mag voor die bekentenis Fanie se medisyne vir hom neem nie. (Fanie het tydens die binneverhoor te kenne gegee hy was nie by sy volle positiewe toe hy die bekentenis afgelê het nie.) Sy het ook ontken dat die medikasie enige impak op sy verstand sou hê.
4. Joan besoek haar seun glo weekliks in die gevangenis. Op regter De Vos se navraag oor haar seun se medikasie, het sy getuig dis vir sy “klapvoete”, waar die binnespiere styf is en die buitespiere swak. Hy was vier maande oud toe hy ’n operasie daarvoor ondergaan het, maar loop steeds mank. 5. Jonathan Blom, wat op 3 Desember saam met Fanie in 'n sel was, getuig dat hy R100 ontvang het om Dinsdag en Woensdag in die hof te getuig. Maar Blom en Fanie se getuienis oor 'n koppie wat in die sel was, asook die wyse waarop Fanie in die sel vasgemaak sou wees, stem glad nie ooreen nie.
6. Adv. Erik van der Merwe, vir die staat, het Fanie as 'n "oneerlike getuie" beskryf. Hy het die hof versoek om Fanie se getuienis oor sy bekentenis te verwerp. 7. Regter de Vos dui aan dat Fanie se getuienis rondom sy veelbesproke bekentenis daar op gemik was om a.o. Alberts te beswadder. Die regter het verder gesê Fanie het ’n storie uitgedink met die doel om op borgtog vrygelaat te word. Fanie se getuienis in die binneverhoor is voorts verwerp. Die dokument sal nou as ’n verklaring gebruik word en nie as ’n bekentenis nie.
8. Kol. Francois van der Merwe het Vrydag, 21 Oktober, Fanie se verklaring van 4 Desember aan die hof voorgelees. Volgens die verklaring het dwelmbase Fanie deurerntyd gedreig. Dit het hom egter nie juis gepla nie; hy het ’n vuurwapen aangeskaf en sou binnekort uit Springs wees. Na bewering het die dwelmbase hom ook dopgehou en hom dwelms gegee. Francois het ook voorgelees hoe die Libanese dwelmbase Fanie glo gedwing het om van kamer tot kamer te loop en sy gesin te skiet.
9. KC Coertzen, Thea se swaer, het ook Vrydag in die getuiebank verskyn. Hy het daardie oggend die moordhuis binnegegaan. Carlia was op haar bed en Philip op die vloer. Hy kon egter nie verder deur die huis gaan nie. Fanie se ma het gesê almal is dood.

10. Volgens KC het Fanie met sy aankoms omstreeks halfvyf die oggend van 3 Desember kalm aan hom gesê: "Alles is 'n flop."

Die hof sal weer op 25 Oktober hervat.