Kinders smag dikwels anders na jou aandag en tyd as wat jy dalk dink.

Die oudonderwyseres en ouerskapsafrigter Erin Kurt het ’n lys saamgestel met raad vir ouers oor wat kinders eintlik wil hê hulle saam moet doen. En die Kaapse sielkundige Robyn Jacobs stem saam: “Tydens gehaltetyd moet jy enige afleidings opsy skuif en net aandag aan jou kind gee.”

1. Kom maak my saans warm toe in my bed, sê vir my nag en sing vir my ’n liedjie. Of vertel vir my stories van toe Ma nog klein was. “’n Slaaptydritueel waartydens jy vir jou kind nag sê, laat nie net jou kind spesiaal voel nie; dit bevorder ook haar slaappartroon,” sê Robyn.

2. Gee vir my baie drukkies en soentjies.

3. Bring tyd deur saam met net my, sonder dat my boeties en sussies by is. Robyn sê sowat ’n kwartier alleen saam met elke kind per dag, sal jul verhouding versterk. “Sê vir jou kind dat sy mag kies wat julle moet doen, en doen dat nét dit. Kinders is mal daaroor wanneer jy hul wêreld betree, want dit wys jy stel belang in dit wat vir hulle belangrik is.”

4. Gee vir my voedingsryke kos sodat ek sterk en gesond kan wees. “Selfs kinders kan insien hoe belangrik gesonde eetgewoontes is,” sê Robyn. Sy stel voor dat jy en jou kinders maaltye saam geniet en oor jul dag en ervarings gesels omdat dit gelukkige herinneringe vir jou kinders bou, en vir jou.

5. Praat saans iets wat ons naweke saam kan doen.“Dié soort gesinstradisies is die hoeksteen van gelukkige verhoudings. Roetine laat kinders veilig voel en dit laat hulle veilig en gekoester voel.”

6. Gesels met my oor sommer enigiets; van skool tot die liefde en my gesin. “Kinders geniet dit wanneer jy met hulle praat en hulle by gesprekke betrek. Dit laat hulle weet jy waardeer hulle.”

7. Laat my baie buite speel.

8. Sit snoesig saam met my voor die TV terwyl ons ons gunsteling-TV-program kyk.

9. Dissiplineer my. Dit wys my voel jy gee werklik om.

10. Los vir my spesiale boodskappe in my kosblik. “Dit laat jou kind besef jy dink aan hom, selfs wanneer jy nie by hom is nie,” sê Robyn.

Robyn se topdrie aktiwiteite vir ma en kind:

  1. Speel saam met my en neem deel aan my aktiwiteite.
  2. Skakel die TV af en eet saam met my, vra vrae en deel jou stories met my.
  3. Staan tyd af net vir my, sonder dat die ander gesinslede by is.

- Mieke Vlok