Vra maar enige mens van enige ouderdom of hulle weet wie Heidi en Peter is – en jy sal verstom wees hoe baie mense hulle ken.

Dié twee karaktertjies het in die sewentigerjare kniediep in Suid-Afrikaners se harte gekruip toe hulle in ’n animasiereeks op televisie verskyn het.

Dalk onthou julle selfs hierdie plakkaat in Huisgenoot?

hg heidi binne

Oud en jonk het die twee se kaperjolle in die Switserse Alpe, geanker deur Heidi se waardige oupa wat “bo in die berge” gebly het en wat met groot wysheid geseën was, geniet.

Om die waarheid te sê, bloot net die noem van Heidi se naam, gaan in alle waarskynlikheid die reeks se bekende kenwysie laat opduik.

Die ongekunsteldheid van die karakters, saam met Heidi se aansteeklike, borrelende laggie en Peter se briljante verleë oomblikke het selfs beswaardes vir ’n wyle van alles laat vergeet.

En die goeie nuus is dié geliefde animasiereeks keer vanaf vandag 17:00 af terug na die kassie op DStv-kanaal 144.

Pretfeite oor Heidi en haar mense

1. Johanna Spyri van Switserland het die karaktertjie reeds in 1881 geskep.

2. Heidi se oupa het in afsondering in die berge gebly omdat hy haaks was met die mense van die dorpie, Dörfli.

3. Peter, die bokwagtertjie, het by sy ma, Bridget, en blinde ouma “Grannie” gebly.

4. Meer as 20 televisieproduksies met Heidi as tema het al die lig gesien.

5. In 1937 is die avonture van Heidi in ’n fliek omskep – met Shirley Temple in die hoofrol.

6. Jane Seymour het die rol van die omgeklitste Juf. Rottenmeier vertolk in ’n Amerikaanse mini-reeks in 1993.
7. Heidi se unieke stem en aansteeklike laggie (in Afrikaans) is deur niemand anders nie as Annalisa Weiland (Hilda van 7de Laan) vervolmaak.
8. Kan jy glo dat Peter se stem nie dié van ’n jong seun was nie? Die gesoute aktrise Rina Nienaber het die geliefde mannetjie se persoonlikheid so mooi oorgedra.

9. En oupa Alm-Ohi? Kosie Eloff (Groetnis vir die Eerste Minister, 1973) was die wyse man se Afrikaanse stem.

10. Heidi was een van bitter min animasie-karakters wat nog ooit op Huisgenoot se voorblad verskyn het (14 Julie 1978).

heidi voorblad