1. In die New York Times se voorbladdoodsberig beskryf die joernalis Bruce Weber Philip as “waarskynlik die ambisieusste akteur van sy geslag asook die akteur wat die wydste bewonder is vir sy kuns”.
  2. Sy deurbraakrol was dié van Scotty J. in die regisseur Paul Thomas Anderson se treffer Boogie Nights (1997). Mettertyd het hy sy loopbaan geskoei op die sukses wat hy in onafhanklike films behaal het, en het in al Paul se films gespeel, buiten There Will Be Blood.
  3. In 2006 het hy in ’n onderhoud met 60 Minutes gesê hy het dwelms en drank op 22 gelos. “Ek dink ek sou myself doodgedrink het, letterlik, as ek nie destyds vir goed opgehou het nie. Ek sal nooit vir enigeen preek oor drank of dwelms nie, maar vir my, wanneer ek daardeur omring is, het ek geen selfbeheer gehad nie,” het hy al oor die besluit gesê. Maar in Mei verlede jaar, ná 23 jaar sonder dwelms, het hy hom vir 10 dae in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem. Hy het glo ’n terugslag met heroïen beleef nadat hy afhanklik van voorskrifmedikasie geraak het.
  4. Die dramaturg David Bar Katz, ’n vriend van Philip, het op sy lyk in sy woonstel in New York se Greenwich Village afgekom. “Ek het hom verlede week gesien en hy was skoon en nugter, sy ou self,” het David gesê. “Ek het regtig geglo daardie hoofstuk van sy lewe is verby.”
  5. As ’n akteur het Philip dikwels karakters gekies wat deur ’n wye reeks emosies gaan en hy was bekend vir sy trae, lustelose manier van praat asook hoe hy hom heeltemal oorgegee het aan die rol wat hy vertolk het. Hy het dikwels die ondersteunende rolle in films vertolk, maar in 2005 het hy al wat ’n prys is, onder meer ’n Oscar, opgeraap vir sy rol as die skrywer Truman Capote in Capote.
  6. Benewens sy kolskoot met Capote, is Philip drie keer vir ’n Oscar benoem as die beste akteur in ’n ondersteunende rol: Charlie Wilson’s War (2007), Doubt (2008) en The Master (2012). Ook as ’n teater-akteur het hy uitgeblink en hy is ook drie keer vir die gesogte Tonys vir sy werk op Broadway benoem.
  7. Hy het sy lewensmaat, Mimi O’Donnell, ’n kostuum-ontwerper, in 1999 ontmoet toe hy die regie van die verhoogproduksie In Arabia We’d All Be Kings behartig het. Hulle het kort voor sy dood van mekaar vervreem geraak en het drie kinders saam: ’n seun, Cooper (10), en twee dogters, Tallulah (8) en Willa (5).
  8. As die karakter Plutarch Heavensbee in die tienertrefferfilms The Hunger Games het hy ook aanhang onder jonger gehore geniet. Met sy dood was hy veronderstel om nog sewe dae aan die tweede deel van die Mockingjay-aflewering te skiet.
  9. Hy en Dustin Hoffman is die enigste Oscar-bekroonde akteurs vir ’n hoofrol wat met dieselfde van spog. Dustin het Oscars gewen vir Kramer vs Kramer (1979) en Rain Man (1988).
  10. Hy het Heath Ledger, wat in 2008 ook ’n tragiese dwelmdood gesterf het, in 2005 om die Oscar as beste akteur met sy vertolking in Capote geklop, maar in 2008 het Heath se vertolking in The Dark Knight (2008) hom die ontwykende Oscar besorg, al is Philip weer vir Doubt (2008) benoem.

- Saamgestel deur Almari Wessels

BRONNE: wikipedia.org, imdb.com, nytimes.com, nydailynews.com, ign.com