Die openbare beskermer Thuli Madonsela was veronderstel om Vrydag – haar laaste dag in die amp – 'n verslag oor die staatskaping bekendstel. Nou het pres. Jacob Zuma 'n dringende hofinterdik aangevra dit te keer.

1. Waaroor is die ondersoek?

Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), is op 18 Maart deur Mmusi Maimane, DA-LP en -leier, gevra om aantygings van sogenaamde staatskaping te ondersoek. Dit na bewerings deur Vytjie Mentor, ‘n voormalige senior ANC-LP, en Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, dat hulle deur die omstrede Gupta-familie kabinetsposte aangebied is.

2. Wat is staatskaping en wie is die Guptas?

Staatskaping verwys na die onbehoorlike, ongerymde en onwettige invloed wat individue buite die staat op regeringsake uitoefen. Dié invloed word vir eie gewin gebruik, dikwels om toegang tot staatskontrakte en tenders te bekom. Die Guptas is ‘n invloedryke familie met noue bande aan pres. Jacob Zuma en sy gesin. Hulle naam word dikwels in verband met staatskaping genoem.

3. Waarom wil Zuma ‘n interdik teen die OB kry?

Madonsela was veronderstel om Vrydag ‘n voorlopige verslag na Mentor en Jonas se bewerings, aantygings dat die Guptas onbehoorlik in die toeken van tenders en mynlisensies bevoordeel is en omstandighede rondom die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies bekendmaak. Die verwagting is die verslag bevat getuienis van wetsoortreding.

4. Is die ondersoek voltooi?

Nog nie heeltemal nie. Madonsela het alle bewyse teen Zuma op 1 Oktober aan hom oorhandig. Hy was op ‘n ontmoeting op 6 Oktober nie bereid om vrae te beantwoord nie en het daarop aangedring om diegene wat voor haar getuig het self te ondervra. Die presidensie was toe veronderstel om die afgelope Maandag, 10 Oktober, geskrewe antwoorde op Madonsela se navrae te gee. Hy het dit ook nie gedoen nie.

5. Op watter gronde wil Zuma die verslag keer?

Die president het Maandag gesê hy het nie genoeg tyd gehad om sy kant van die saak te stel nie. Die OB het egter twee briewe uitgereik wat in Maart en April aan die president gerig is en waarin hy gevra word om kommentaar te lewer op die besonderhede van die klag wat ingedien is.

6. Wat sê die OB?

Sy het vroeër vandeesweek aan News24 gesê haar ondersoek is nie na staatskaping in die breë nie, maar na drie spesifieke gevalle: of die president enige rol gespeel het in die Gupta’s se beweerde aanbod aan Jonas en Mentor en die toeken van mynlisensies aan die Gupta’s.

7. Wat nou?

Dis onduidelik. Madonsela ontruim haar amp Vrydag, terwyl die president se aansoek glo Dinsdag aangehoor sal word. Die verslag sal dan deur die nuwe OB voltooi moet word. Die OB het laat Donderdag nog met haar regspan vergader oor die pad vorentoe.