Die ad hoc-komitee wat aangewys is om Thuli Madonsela se plaasvervanger te kies, gaan na verwagting hul finale keuse Woensdag maak. Thuli se termyn verstryk middel-Oktober.

Nadat die komitee hul verkose kandidaat se naam bekend gemaak het, sal dit na die Nasionale Vergadering (NV) gestuur word vir goedkeuring. Volgens die grondwet sal minstens 60% van die lede van die NV ten gunste van die kandidaat moet wees alvorens sy of haar aanwysing vasgemaak word.

Regters Siraj Desai en Sharise Weiner, die advokate Busisiwe Mkhwebane en Muvhango Lukhaimane sowel as prof. Bongani Majola is op die kortlys.

Thuli het in 2014 in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel sy sien uit daarna om terug te keer na “die burgerlike samelewing” – soos sy dit noem – na haar termyn as Openbare Beskermer verstryk het.

Sy oorweeg dit om weer te praktiseer as advokaat en om ’n boek te skryf oor haar ervaringe as OB, het sy gesê.

Volg Huisgenoot op Twitter vir regstreekse kommentaar van die Parlement in Kaapstad wanneer die nuwe OB Woensdagmiddag aangewys word.