“Die OB is verootmoedig deur die gebaar en is verbaas dat die beskeie pogings van haar kantoor nie net op eie bodem erken word nie, maar ook elders in die wêreld,” het haar woordvoerder, Kgalalelo Masibi, gesê.

Thuli het gesê dat (soos met ander eerbewyse wat sy ontvang) haar insluiting in die Amerikaanse publikasie se lys nie net haar bydrae weerspieël nie.

“Dit is ’n erkenning van die onbaatsugtige werk van die OB-span in sy geheel.”

Volgens Thuli gaan die span steeds inspirasie verkry uit die feit dat hul werk, om die regering wanadministrasie te help opspoor en uitroei, nie ongesiens verbygaan nie.

Kgalalelo sê volgens Time erken die lys – wat nou sy 11de bestaansjaar vier – die aktivisme, innovering en prestasies van die wêreld se invloedrykste individue.

“Die tydskrif beskryf Time 100 as ‘ ’n lys van die invloedrykste mense ter wêreld’ en nie ’n lys van die magtigste of slimste mense ter wêreld nie,” sê sy.

Ander wat ook op die lys genoem word, sluit in wetenskaplikes, filosowe, leiers, ikone, kunstenaars en visioenêre.

“Dit is mense wat ‘hul idees, visies (en) dade gebruik om die wêreld te verander en baie mense te beïnvloed,’ ” het Kgalalelo gesê.

Die volledige lys verskyn in Time se uitgawe van 5 Mei.

Thuli, tesame met die ander op die lys, is genooi om die Time-gala op 29 April in New York by te woon, waar die lys amptelik bekendgemaak sal word.

Kgalalelo het gesê: “Sy beplan om die geleentheid te gebruik om mense te ontmoet en goeie praktyk en ervaringe te deel met onder andere amptenare van die Wêreldbank se antikorrupsie-eenheid, die kantoor van die inspekteur-generaal van New York en Washington DC se ondersoekeenheid.” - Sapa