Deur Dana Snyman - foto's, Corrie Hansen

Die polisieman by die valhek skud sy kop. Ja, sê hy, daar is ’n besoekersentrum hier binne, maar niemand word op die oomblik toegelaat om dit te besoek nie. Jammer.

You must go,” sê hy. “Julle moet gaan.”

Twee kameras hou ons van ’n paal af dop.

Die geboue en geplaveide paaie en ooptes hier by die ingang na pres. Jacob Zuma se woonplek op Nkandla, anderkant Eshowe in diep-Zoeloeland, is nuut en modern. Regs van die valhek is ’n kantoor waaruit die polisieman pas gekom het: ’n langwerpige geboutjie met donker ruite en ’n X-straalmasjien soos dié wat jy op ’n lughawe kry.

Links is nog ’n langwerpige geboutjie. Die deur staan oop. Teen die een muur is rakke met goed op: blikkies boeliebief en blikkies sousboontjies, koekies Lifebuoy-seep, botteltjies Vaseline – sulke karige goedjies. Dit moet MaKhumalo, die president se eerste vrou, se befaamde snoepwinkel wees.

In die koerant is al baie oor hierdie snoepwinkel geskryf, wat teen ’n paar honderdduisend rand opgerig is omdat dit glo ’n veiligheidsgevaar vir MaKhumalo is om dit buite die presidensiële kompleks te hê.

Die polisieman glimlag flouerig. Ons kan, as ons wil, vir ons koeldrank in MaKhumalo se winkeltjie koop, sê hy. Hy sal ook sommer een neem, dankie, skimp hy.

Ons klim uit die motor. Iewers kraai ’n hoender aanhoudend.

Dit voel ’n bietjie onwerklik om hier te wees op die plek wat die land aan die praat en die twis het – hier waar pres. Zuma vir hom as’t ware ’n klein nedersetting agter ’n dubbele veiligheidsheining laat bou het, met ’n aparte huis vir elkeen van sy vier vroue, ’n kliniek, ’n ondergrondse parkeerterrein, ’n amfiteater en ’n besoekersentrum, twee helikopterlandingsplekke, ’n ontsnaptonnel, ’n beeskraal, ’n swembad.

Dan, skielik, voel alles nog ’n bietjie vreemder, want ’n vierwielmotorfiets kom in die pad aangejaag, met ’n groot, swaar man op in ’n spierwit sygewaad, van die soort wat Afrikaleiers graag dra.

’n Mens herken hom dadelik. Dis Khulubuse Zuma, die president se berugte neef, wat knaend in die nuus is oor sy saketransaksies en sy blink lewenstyl.

Hy hou by ons stil. Aan sy linkerpols skitter ’n Switserse Audemars Piguet-horlosie, wat enigiets van R50 000 tot meer as R200 000 kan kos. Hy is vol agterdogtige vrae.

Ons kyk sommer rond, verduidelik ons. Ons het gedink ons kan na die besoekersentrum gaan.

“Wag net hier,” sê hy. “Ek’s nou terug.”

Dan jaag hy weer weg.

[caption id="attachment_84720" align="alignnone" width="620"]Khulubuse Zuma, die president se neef. Khulubuse Zuma, die president se
neef.[/caption]

Eintlik is MaKhumalo se duur snoepie maar net ’n kleinerige vertrek met rakke teen die een muur. In die hoek staan ’n yskas.

Nêrens is ’n toonbank of ’n kasregister nie.

MaKhumalo is nie nou hier nie. Haar een niggie, Lungile, werk vandag in die winkel.

Lungile sit op ’n wit plastiekstoel met ’n boekie en ’n pen op haar skoot. By haar voete op die vloer lê ’n verslete Engels/Zoeloe-woordeboek.

Sy slaap ook snags in die presidensiële kompleks, maar sy is nie seker hoeveel ander mense in die kompleks woon nie. “Dis baie,” sê sy. “Baie. Baie.”

Die bouwerk hier op Nkandla het tot dusver reeds sowat R246 miljoen gekos, het adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer, bevind in ’n onafhanklike ondersoek na die projek.

Die polisieman loer by die deur in en sê iets kwaais vir Lungile in Zoeloe. Sy laat sak haar kop en weier om enigiets verder te sê.

Die kantoorgeboutjie regs van die valhek het volgens Thuli se verslag sowat R1,2 miljoen gekos om te bou – die prys van ’n voorstedelike huis. Dit bestaan uit twee vertrekke en ’n toilet met ’n spoelbak waarvan die handvatsel makeer en waarvan die deksel weg is. Van die muurteëls is ook uitgebreek.

’n Paar minute later kom die president se neef weer aangejaag op die motorfiets, met sy gewaad wapperend in die wind. “Kom!” roep hy en beduie met ’n arm deur die lug. “Volg my!”

Ons ry nie by die valhek in nie. Hy jaag op ’n nuwe pad aan die buitekant van die veiligheidsheining, verby die 20 nuwe grasdakhuise wat vir meer as R17 miljoen agter die presidensiële kompleks gebou is vir wagte en ander personeellede.

Oral teen die skuinstes, vir kilometer ná kilometer, sien jy die tradisionele Zoeloekrale: ’n paar vaal rondawels met ’n beeskraal in die nabyheid.

Dis ook hoe dit tot ses, sewe jaar gelede gelyk het waar die presidensiële kompleks nou is. Pres. Zuma is hier in so ’n kraal gebore; hier het hy as kind beeste opgepas en voëltjies gejag.

Nêrens sien jy enige ou rondawels nie. Die president se broers, Mike en Joseph, het ook nuwe huise buitekant die veiligheidsheining betrek.

Ons swaai af tot op ’n smaller, geplaveide paadjie, en dan is ons op die president se neef se werf, omring deur vier, vyf, ses huise – almal nuut en modern.

In die middel van als is ’n beeskraal waarin lank laas beeste was, want nêrens sien jy mis lê nie.

Hy hou voor een van die huise stil, naby ’n nuwerige Range Rover.

Sy handdruk is pap en sy stem is sag. “Noem my Khulu,” sê hy. “Ek’t niks om weg te steek nie.” Hy wys om hom. “Ek het nie eens R14 miljoen betaal vir alles wat jy hier sien nie – nie eens 14 miljoen nie.”

Hy roep hard oor die werf: “Gogo!”

’n Klein vroutjie kom uit een van die huise. “Dis my tweede vrou.” Hy wys na haar. “Ek’t vier vroue.” Die tweede vrou se naam is Sibuyile en sy gaan laag af tot op haar knieë wanneer sy jou groet. Khulu stap by die agterdeur van een van die huise in. In die kombuis staan vier tamaai Samsung-yskaste, nog in die kartonomhulsel, splinternuut. Op ’n kas lê twee Zoeloe-Bybels. Hy sak weg in een van die drie leerbanke in die sitkamer en begin sommer self praat oor sy oom, die president.

'Een ding kan ek jou sê: Baba is onskuldig.'

“Een ding kan ek jou sê: Baba is onskuldig,” sê hy. “Hy was nie bewus wat al die bouwerk (hier op Nkandla) gekos het nie.

“Baba het ook nie gevra dat ’n swembad gebou word nie. Dis net gebou.”

Dis wat Khulu die president noem: Baba. Vader.

“Daar is twee dinge wat jy moet weet van ’n goeie Zoeloe,” sê hy. “ ’n Goeie Zoeloe glo aan God, en ’n goeie Zoeloe glo die voorvaders kyk heeltyd wat jy doen.

“Ek bid elke dag. Elke dag.” Hy lig sy regterarm en wys die breë armband om sy pols. Dis van silwer, goud en diamante gemaak. In die middel staan gegraveer: Zuma.

Hy streel oor die armband. “Ek het dit self ontwerp. Dit herinner my daaraan om elke dag te bid. Ek bid eers tot God, en dan tot die voorvaders.

“Ek weet nie of Baba elke dag bid nie, maar hy bid ook tot God en die voorvaders, nes ek. Hy rook en drink ook nie, niks, niks, niks.”

Oor die Audemars Piguet aan sy linkerpols wil hy nie praat nie.

“Dis ’n geskenk. Meer gaan ek nie sê nie.”

[caption id="attachment_84721" align="alignnone" width="620"]Khulu se Range Rover. Hy sê hy het “baie, baie hard” gewerk vir sy geld. Khulu se Range Rover. Hy sê hy het “baie, baie hard” gewerk vir sy geld.[/caption]

Dit gaan nie help om Khulu met vrae in ’n hoek te probeer dwing nie, besef jy gou. Hy glo vas aan sy oom se onskuld. Of dis wat hy sê.

“Ek kry Baba jammer,” sê hy. “Ek het hom al gevra: ‘Baba, hoekom los jy nie net alles nie? Tree eerder af.’ ”

Hy glimlag skewerig. “Maar jy weet, Baba is ’n politikus. Hy sal dit nie sommer doen nie.” Die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het ná ’n ondersoek bevind die president moet  ’n groot deel terugbetaal van die R246 miljoen wat hier geblaas is. Maar “Baba kan nie die geld terugbetaal nie, want dan sê hy hy is skuldig...” Khulu vryf oor sy wang waarop ’n fyn snymerk lê – die merk van die Zuma-stam.

'Ek beskou my as ’n internasionale entrepreneur.'

Oor sy eie sakebedrywighede wil hy nie uitwei nie. “Ek het al geleer om stil te bly daaroor. Ek beskou my as ’n internasionale entrepreneur. Dis al wat ek kan sê.”

Hy was onder meer mede-eienaar van die mynmaatskappy Aurora, waarvan die bankrotskap honderde mynwerkers in ellende gedompel het.

“Ek het niks om oor skuldig te voel oor Aurora nie. Ek voel ook nie skuldig oor my geld nie. Ek het baie, baie hard daarvoor gewerk.”

Sy selfoon gaan aan die lui. Hy antwoord dadelik.

’n Jong meisie kom die vertrek binne met ’n skottel louwarm water en ’n handdoekie. Sy kom kniel voor ons elkeen sodat ons hande kan was, want daar gaan nou geëet word.

“Ek’s op pad Ghana toe, of Kenia toe,” sê Khulu vir die een aan die ander kant van die foon. “Ek moet iets gaan teken.” ’n Rukkie later vra hy: “Ken jy nie iemand in Mali nie?” Die groot bouery hier op Nkandla het in 2009 begin nadat Zuma as president ingehuldig is. “Ek het vir Baba aan die begin raad gegee oor die bouery,” sê hy. “Ons het net begin bou, toe kom die generaal en ministers hier en sê ons sal die veiligheid van die plek in ag moet neem. Hulle het toe allerhande voorstelle gemaak waarmee Baba niks te doen gehad het nie.

'Jy los nooit die plek waar jy gebore is en grootgeword het nie.'

“Ons as ’n familie het saam hier begin bou. Dis ’n Zoeloetradisie: Jy los nooit die plek waar jy gebore is en grootgeword het nie. Jy kom altyd terug.”

Om te sê presies hoe groot die Zuma-stam is, is moeilik. Khulu tel op sy vingers en doen hoofrekene. Die Zuma-mans het byna almal ’n klomp kinders, almal by meer as een vrou.

“Ek sou sê daar is so 170 in ons i<clan>.” Die i<clan> ontmoet mekaar van tyd tot tyd hier by die presidensiële nedersetting.

Khulu se selfoon gaan weer aan die lui. Hierdie keer praat hy met iemand wat op pad is China toe.

Sibuyile en die jong meisie kom sit ’n TV-skinkbord voor ons elkeen neer met ’n bord kos op: ’n stuk wors, spek, twee eiers, ’n paar snye brood en ’n blikkie Fanta Grape.

Khulu laat sak die foon weer en trek die TV-skinkbord nader. Hy is nie tevrede met sy wors nie. “Gogo!” roep hy weer.

Sibuyile kom staan voor hom. Hy sit die wors op ’n kleinbordjie en gee dit terug vir haar. “Gee my ’n soen,” sê hy, trek haar nader, en soen haar skrams op die wang.

Sibuyile lyk verleë.

“Hierdie vrou van my is so skaam.” Khulu lag en beduie na die twee Bybels op die kas. “Dis haar Bybels daai. Sy is so lief om daardie Bybels te lees.”

[caption id="attachment_84722" align="alignnone" width="620"]Khulu se werf, waarop ses huise staan Khulu se werf, waarop ses huise staan[/caption]

’n Mens kry ’n goeie insig in hoe dit moet wees om ’n Zuma te wees – een van Nkandla se Zumas – as jy saam met Khulu hier sit.

Sy foon lui aanmekaar en dit klink of byna almal die een of ander guns van hom wil hê.

’n Man het ook pas hier aan die deur geklop, ’n vreemdeling vir Khulu. Hy het sy CV by hom en wil weet of Khulu nie vir hom werk het nie.

“Jy moet sien hoe gaan dit wanneer Baba hier kom.” Khulu wys in die rigting van die presidensiële kompleks. “Die mense wag in rye vir hom by sy huis, honderde van hulle. Almal soek hulp. “Baba probeer persoonlik met almal praat. Party nagte gaan slaap hy eers vieruur in die oggend.” Khulu onthou skielik iets. Hy lig sy foon en druk ’n nommer. Iemand aan die ander kant antwoord. Dit klink of dit iemand by ’n bank moet wees, want Khulu vra die mens om asseblief – en hy noem ’n baie groot bedrag – van een rekening na ’n ander oor te plaas. Sommer net so.

'Thuli Madonsela kan sê wat sy wil.'

“Thuli Madonsela kan sê wat sy wil, maar ek gaan aan om hier te bou,” hervat hy dan die gesprek. “Jy kan gaan kyk, by Baba se plek word ook nog gebou.”

Die vier yskaste is vir ’n tamaai kombuis wat nog hier op sy werf in aanbou is.

Hoewel hy al lobola vir sy vier vroue betaal het, is hy nog nie amptelik met een van hulle getroud nie. Binnekort wil hy met die eerste een trou.

“Die troue gaan hier by my huis wees. Baba sal ook hier wees.” Hy bly ’n rukkie stil. “Jy weet, as jy ’n Zuma is, is dit nie altyd maklik nie. Nou, terwyl ek my troue probeer reël, het ek met verskeie onthaalmaatskappye gepraat. Ek wil hê hier moet twee tente opgeslaan word en almal moet kos kry.

“Die een maatskappy kwoteer my vier miljoen. ’n Ander maatskappy vra vir presies dieselfde werk 400 000. Natuurlik het ek die een van 400 000 gevat.”

Hy leun vorentoe, asof hy ’n geheim met jou wil deel. “As jy regtig die waarheid wil weet, ek kan ook nie glo dit het meer as 200 miljoen gekos om Baba se plek te bou nie. Dit klink vir my ook te veel.”

Sibuyile kom weer in met ’n skinkbord. Op die skinkbord staan ’n bottel Johnnie Walker Platinum – 18 jaar oud, enkelmout. Dit kos so R1 000 per bottel in ’n goeie drankwinkel.

Khulu gee ’n hoë laggie. “Niemand gaan hier by my weg sonder om eers ’n drankie te drink nie.”

nkandla5

Dis laatmiddag. Ons ry weer by die presidensiële nedersetting verby, langs die veiligheidsheining af. Op een plek het die heining reeds ’n gat in.

MaKumalo se snoepwinkel is al gesluit. Tussen die R17 miljoen se grasdakhuise wei ’n troppie boerbokke.

By die hoërskool oorkant die presidensiële nedersetting ontdek jy nog iets oor hoe die Zumas soms te werk gaan. PK Zondi, ’n onderwyseres by die skool, vertel hoe die president en Khulubuse gehelp het om haar seun, Mthokozisi, in Duitsland te laat studeer.

“Ek het die president hier by sy huis gaan spreek en hom gevra vir geld vir my kind se studie. Hy sê toe hy sal kyk wat hy kan doen en gee my sy selfoonnommer.

“Ek het gesukkel om hom op die foon in die hande te kry. Maar een aand toe antwoord die president. Dit was al omtrent elfuur.

“Hy sê toe ek moet Durban toe kom en hom in die Elangeni-hotel ontmoet. Ek is toe soontoe, en toe reël hy deur Khulu dat ek die geld kry.”

Ons ry terug in die rigting van Eshowe, die naaste groot dorp aan Nkandla. By die Lindela Tea Room vang iets jou oog. Voor die deur staan ’n vierwielmotorfiets. Ons hou daar stil.

Die Lindela Tea Room is eintlik ’n township-sjebien. Eers dink jy jou oë jok vir jou: In die middel van die vloer staan Khulu by ’n potspeltafel. Hy speel teen een van die plaaslike manne – ’n kêrel in ’n T-hemp vol gate. ’n Paar ander ouens in armsalige klere hou hulle dop.

Dis Khulu se beurt om te skiet. Die Zuma-armband en Audemars Piguet blink in die flou lig. Hy leun swaar oor die tafel. Internasionale entrepreneur. Nie-amptelik die man van vier vroue. Nie-amptelike raadgewer van die president.

Jy kyk na hom en kyk na hom, en kan nie help om te dink aan wat hy vroeër by sy huis gesê het nie: “Jy moenie ander mense te maklik kritiseer nie – veral nie hul geloof nie. Jy moenie alles probeer verstaan nie. Jy moet net glo wat jy sien.”

Wat is die volgende stap?

Dit kan nog ’n hele ruk duur voor daar duidelikheid is of iemand verantwoordelik gehou gaan word vir die groot somme geld wat by Nkandla uitgegee is, meen politieke ontleders.

Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer, het reeds ’n ondersoek na die Nkandla-projek voltooi en aanbeveel dat pres. Jacob Zuma van die geld terugbetaal.

Zuma se spesiale ondersoekeenheid het ook die saak bekyk en onder meer bevind dat Minenhle Makhanya, die argitek en leier van die bouprojek, van die geld moet terugbetaal.

’n Spesiale parlementêre komitee moet nou besluit hoe die twee verslae se bevindinge toegepas moet word. Weens allerhande interne struwelinge kon die komitee egter nog nie met sy werk begin nie.

[caption id="attachment_84728" align="alignnone" width="620"]Die voorblad van die openbare beskermer,  adv. Thuli Madonsela, se verslag oor Nkandla. Die voorblad van die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se verslag oor Nkandla.[/caption]