Die sanger en liedjieskrywer Gert Vlok Nel het 'n storm in sosiale media onteken toe hy 'n brief op Facebook gedeel het waar hy uitgevaar het teenoor Theuns Jordaan oor sy trefferliedjie Beautiful in Beaufort-Wes en gesê het Theuns het die liedjie by hom “gesteel”.

[caption id="attachment_134206" align="alignnone" width="600"]Theuns Jordaan (Foto: Dino Codevilla) Theuns Jordaan (Foto: Dino Codevilla)[/caption]

HIER IS THEUNS SE REAKSIE:

Ek is stomgeslaan deur Gert se aantygings en hoe hy die werkinge van die musiekbedryf verstaan.

Ons het al voorheen hierdie gesprek gehad en ek het aan hom verduidelik dat die uitbetalings aan hom van die onderskeie platemaatskappye moet kom.

In die geval van Beautiful in Beaufort-Wes was dit Wildebeest Records en EMI (deesdae deel van Universal Records).

Die tantième van die Skouspel-DVD waarop “Beautiful in Beaufort-Wes” is, se verantwoordelikheid lê by Select Musiek wat deesdae deel van Sony is.

Die betalings aan liedjieskrywers kom nooit van die sanger wat dit sing nie, maar van die platemaatskappye wat die opnames besit. Dit is hoe dit wêreldwyd en ook hier by ons werk.

Wat SAMRO betref, is dit die uitgewer van die liedjie se verantwoordelikheid om betalings met hulle op te volg, nie die sanger van die liedjie nie. Gert moet dus self vir SAMRO kontak.

Ek het nog altyd die grootste respek vir Gert as liedjieskrywer gehad en ek hoop hy kan die gelde wat hy glo aan hom verskuldig is by die maatskappye kry wat dit aan hom skuld.