Dinsdag was dit nie 'n verhoog waarop Theuns Jordaan die grootste aantrekkingskrag was nie, maar hof 6E in die hooggeregshof in Pretoria.

En anders as gewoonlik wanneer hy sy gehoor met sy diep stem bekoor, het Theuns vandag stil in die voorste ry van die hof gesit, nou en dan gekug as hy nie met Afrikaans is Groot (AIG) se regsverteenwoordiger saamstem nie, sy kop geskud, of inderhaas 'n nota aan sy prokureur gegee met sy mening oor 'n standpunt wat gemaak is.

Theuns, geklee in 'n swart pak met 'n swart hemp, gaan binnekort hoor of hy in November by die Afrikaans Is Groot-konserte in Pretoria mag deelneem nadat hy vroeër vandeesmaand van die kunstenaarslys afgehaal is.

AIG het Theuns vroeg in Oktober ingelig dat hy nie meer aan die konsert deelneem nie, nadat hulle hom herhaaldelik gevra het om sy kontrak vir vanjaar se konsertreeks te teken.

Toe Theuns eindelik die kontrak teken, het hy dit met twee voorwaardes gedoen: Hy wou die volledige verkoop van CD's en DVD's van AIG sien en hoe die wins bereken word; en hy wou ook 'n vergadering hê met Coleske Artists en een van die twee nuwe direkteure van AIG, Mark Rosin of Antonio Lee.

Adv. Christo Zietsman, Theuns se regsverteenwoordiger en adv. Werner Lüderitz SC, namens Afrikaans is Groot, het vanoggend voor waarnemende regter Corrie van der Westhuizen argumenteer.

[caption id="attachment_142736" align="alignnone" width="575"]Theuns Jordaan buite die Pretoriase hooggeregshof. Foto: Hilda van Dyk Theuns Jordaan buite die Pretoriase hooggeregshof. Foto: Hilda van Dyk[/caption]

Zietsman het gesê Theuns is geregtig daarop om deel te neem aan die konsertreeks op grond daarvan dat hy 'n stigterslid van die konsertreeks is. "Theuns sou nie deel word van die konsert op grond van 'n kontrak nie. Hy was nog altyd deel van die konsert. Van 2012 af.

"Voor AIG was hy en die ander kunstenaars deel van Skouspel. Hulle het die keuse gemaak om nie meer deel van Skouspel te wees nie en sodoende hul brûe daar te brand. Hulle het gekies om deel te wees van AIG.

"Hy was nog altyd deel van die konsert. Hierdie jaar ook. Sy liedjies is al gekies en daar was al vergaderings oor die konsert. Hy was ook deel van die bemarkingsmateriaal en staan in die middel op die materiaal.

"AIG het geen reg om hom uit die konsert te skop weens die afwesigheid van 'n handtekening nie."

Zietsman sê dit gaan nie vir Theuns oor die geld nie. Theuns wil deelneem omdat hy dit geniet. Daarby wil sy aanhangers hom ook by die konsert sien.

Lüderitz het sy argument begin met "profetiese woorde" wat Zietsman in sy argument gebruik het. Die profetiese woorde was dat al wat Theuns het, is sy reputasie.

"Die hele saak gaan oor mnr. Jordaan se reputasie en sy poging om sy reputasie te misbruik," sê Lüderitz.

Volgens Lüderitz het Theuns al die kontrak in Maart vanjaar gekry. Hy het toe gesê hy sal dit teken en vir AIG terugstuur. Die kontrak het onder meer te doen met betalings weens sy optrede en vir die verkoop van CD's en DVD's sowel as kleedrepetisies se datums en tye.

Intussen het die verhouding tussen Theuns en Coleske Artists versuur.

"Vir 'n lang tyd het mnr. Jordaan niks gedoen nie. Hy het nie 'n enkele klagte oor die kontrak se stipulasies gehad nie.

"Jordaan het geglo hy kan sy beroemdheid gebruik om die respondente af te pers deur in die kontrak voorwaardes te stel wat niks met die konsert te doen het nie. Hy het gedink hulle is desperaat om hom deel van die konsert te hê en sou daarom ingee.

"Hy het sy beroemdheid en reputasie gebruik om druk te plaas op die respondente dat as hulle nie aan die voorwaardes voldoen nie, hy nie aan die konsert gaan deelneem nie."

Lüderitz sê daar was baie frustrasie vir AIG. Theuns het geweier om hul oproepe te neem of te antwoord op boodskappe. Hy het ook verskeie vergaderings nie bygewoon nie.

"Dit alles het in sy gesig teruggeslaan."

Die saak gaan vanmiddag voort.