HUL liefde was soos iets uit ’n sprokie – hy die diepsinnige sanger wat vroue se knieë lam maak en sy die pragtige oudmodel wat deesdae groot naam as sanger en aktrise maak.

“Daardie twee gaan nog trou; hulle is vir mekaar bedoel,” het die twee se vriende voorspel.

Maar hul liefdesverhaal het toe geen sprokieseinde gehad nie, want die paadjies van die bekendste glanspaartjie in die Afrikaanse musiekwêreld het geskei.

Theuns Jordaan en Elizma Theron het pas ná ’n verhouding van sowat ’n jaar uitgemaak. Maar dis nie die eerste keer nie, want sowat vyf jaar gelede was daar ook ’n vonk tussen hulle, maar toe was die romanse van nog korter duur.

Nie eens die sangers se beste vriende het hierdie keer die skielike en dramatiese einde sien kom nie, en dit gons in die musiekwêreld oor waarom die twee besluit het om hul verhouding te verbreek.

Hulle het op Stellenbosch en in Pretoria huise gedeel, en gereeld saam na optredes gegaan.

“Wanneer Elizma moes optree, het Theuns altyd saamgegaan, tensy hy iewers anders moes wees,” sê ’n vriend. “Hy het altyd moeite gedoen om by haar te wees.”

Theuns (39) en Elizma (27) was immers onskeibaar sedert hulle verlede Augustus verlief geraak het.

Lees die redes vir die skeiding en die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010.