Die gewilde aktrise Therese Benade, wat deesdae ’n Kwêla-aanbieder is, het verlede week vir die laaste keer in die kykNET-sepie Villa Rosa verskyn. Ons het met haar gesels.

Jy vertolk al sewe jaar lank die rol van Astrid in Villa Rosa. Hoe het jou karakter in dié tyd gegroei?

As jy so lank elke dag dieselfde karakter speel, word sy mettertyd ál meer deel van jou. Dit begin voel soos iemand wat jy goed ken: As jy haar klere en haar grimering dra, is dit amper asof jy outomaties net soos sy reageer. Dit beteken dat ’n karakter baie meer diepte en lae kry hoe langer jy dit vertolk.

Is dit vir jou moeilik om ná soveel jare van Astrid afskeid te neem?

Dit ís baie moeilik. Sy was so lank en so intiem deel van my dat dit vreemd is om van haar af weg te beweeg. Maar ek dink ook dis goed om te groei!

Jou karakter was maklik een van die mees gehate karakters op Afrikaanse televisie – hoe het jy die kykers se kommentaar en insae ervaar? Het dit jou ooit persoonlik geraak as mense vir Astrid kritiseer?

Dis nooit sleg as mense jou karakter kritiseer nie, dit laat my altyd giggel omdat ek weet ek moet iets reg doen dat hulle haar met soveel oorgawe haat! Dis wanneer mense persoonlik raak dat dit sleg is, as hulle nie die onderskeid tussen jou as aktrise en jou karakter kan tref nie. Maar dit gebeur min!

Vertel ons meer van jou laaste episode – was jy senuweeagtiger as gewoonlik? Hoe het jy gevoel met jou laaste toneel? Wat het gebeur die oomblik nadat hulle die kameras die laaste keer afgeskakel het?

Ek was op my laaste dag baie emosioneel. Dit was regtig moeilik om afskeid te neem van die familie saam met wie ek soveel jare gewerk het. Ek het net bly dink: Dis die laaste keer in die kantoor. Dis die laaste keer in die kombuis. Die laaste toneel saam met sus of so. Ná ’n speler se laaste toneel kondig die vloerbestuurder altyd aan dat dit jou laaste toneel is en almal klap dan hande en gaan tekere. Met my laaste toneel het almal wat nog daar was, by die ateljee ingekom en vir my ’n kaartjie en bottel sjampanje gegee. Ek was baie hartseer en het lekker gehuil!

Hoe het die kykers op jou karakter se dood gereageer?

Dit was lekker om te sien dat soveel mense hartseer daaroor was – dat mense haar gehaat het, maar mal daaroor was om haar te haat! Ek was bly dat almal nie net gejuig het omdat hulle uiteindelik van haar ontslae was nie. Dit beteken vir my as aktrise baie om te sien dat die hart en siel wat ek in die karakter gesit het, iets vir mense beteken het. Goed en sleg!

Is daar iets in jou vertolking van Astrid wat jy dalk anders of oor sou wou doen?

Glad nie. Ek het elke oomblik van haar geniet.

Wat gaan jy die meeste van Astrid en Villa Rosa mis?

Die verhouding wat ek met die mense by Spectro-produksies opgebou het.

Vertel ons meer van jou nuwe rol as veldaanbieder en inhoudsvervaardiger by Kwêla.

Ek geniet dit baie om agter die skerms te wees en dis dus ’n heerlike geleentheid om te groei en te leer en meer van myself te ontdek. Dis ’n groot voorreg om die wonderlike mense van ons land te ontmoet en in hul huise te kuier. Ek ervaar soveel en leer soveel, dis werklik ’n droomwerk!

- Roxanne Eastes