Dink jy die Hunger Games is goeie kyk- of leesstof? Maar so iets in die werklikheid sal darem mos maar gek wees. Dis mos ’n fantasie-wêreld, of hoe?

Wel, dink weer.

’n 35-jarige Russiese miljoenêr, Yevgeny Pyatkovsky, dink so ’n speletjie in die regte lewe is ’n blink plan, berig The Mirror.

’n Russiese werklilkheidsreeks genaamd Game2: Winter word beplan en dit gaan glo in ’n woud in Siberië afspeel. 30 mans en vroue gaan glo aan dié oorlewingskompetisie deelneem. Volgens die organiseerders word enigiets toegelaat – van moord tot verkragting, berig The Sun.

Die deelnemers moet glo vir nege maande in die moeilike natuurlike toestande probeer oorleef. Dit kan so koud as -40°C word. En hulle kan doen net wat hulle wil om aan die lewe te bly.

Russiese wette geld steeds, so as iemand hulself aan enige kriminele aktiwiteite skuldig maak, kan hulle in hegtenis geneem word.

Die werklikheids reeks gaan volgens Metro aanlyn uitgesaai word. Kameras gaan op vasgestelde plekke opgerig word en die deelnemers, wat bo 18 moet wees en ’n groot bedrag geld moet insamel om deel te neem, gaan ook ’n draagbare kamera by hulle hou.

Die deelnemers mag glo messe saam met hulle dra, om te help met die oorlewingstryd. Maar geen vuurwapens word toegelaat.

En die wenner? Die laaste een wat lewe stap weg met 'n koel £1.3 miljoen.

Volgens Yevgeny gaan die reeks op 1 Julie 2017 begin.