Of dit waag om te probeer. Die CBS-reeks, ’n vlymskerp mengsel van werkplek-waaghalsigheid en huislike melodrama, handhaaf ’n veilige afstand van TV se eggo-kamer, en is immuun teen ’n waarneembare formule of foefie. Dit slaag daarin om sowel hoofstroom as onkonvensioneel te bly. ’n Slim truuk.

Die uitsaai van die slotepisode van die vyfde seisoen Sondag: “The Good Wife het die kaal gestroopte regsdrama-genre aangevul met komplekse storielyne wat menslike verhoudings inspan ewe veel as waagstukke in die hofsaal.

Dit is dikwels snaaks, maar altyd boeiend terwyl dit (met die uiterse uitsondering) wegbly van skreeuende bande, vuisslanery en skietgevegte.

Ja, die prokureur Will Gardner is in ’n episode in Maart platgeskiet, want Josh Charles, wat hom gespeel het, wou die reeks verlaat. Maar die holrug-geryde regsdrama-bestanddeel (’n skietery in die hofsaal!) het die gehoor net so geruk soos vir Will se vennote. Geen wonder nie; dit was baie onverwags om in The Good Wife die bloed te sien vloei.

Ondanks aanhangers se smart oor die verlies van Will, is The Good Wife steeds propvol goeie karakters, gespeel deur ’n skitterende span, onder andere Christine Baranski, Archie Panjabi, Matt Czuchry en Alan Cumming, met die ondersteuning van ’n spul gasspelers, wat tans Michael J. Fox insluit in ’n heerlike wending in die storie. Hulle word gelei deur Julianna Margulies as die protagonis, Alicia Florrick – ’n tuisbly-ma en voormalige prokureur van Chicago. Aan die begin van die reeks is sy verplig om weer te gaan werk nadat haar man (Chris Noth), ’n staatsprokureur van die Cook-distrik, ná ’n reeks seks-en-korrupsie-skandale in die tronk beland. In September 2009 het dit na ’n sappige uitgangspunt gelyk. Maar huweliksverraad met ’n goeie vrou as slagoffer was slegs die vertrekpunt.

'Ons het geweet Alicia moes die aanvanklike krisis konfronteer.'

“Ons het geweet Alicia moes die aanvanklike krisis konfronteer, maar dan groei en verander,” sê Michelle King, wat die reeks saam met haar man, Robert King, geskep het. “Ons wou daardie trajek volg en haar sien sterker word, nie net leef in ’n wêreld van ontrouheid en die nagevolge daarvan nie.”

Die ontydige dood van Will, Alicia se voormalige kollega en liefde, het die program ’n kreatiewe skok gegee, ’n roerende oorlegsel vir sy ineengestrengelde litigasie en kantoorintrige. Maar die lewe gaan aan.

“Op die program probeer ons soveel moontlik die lewe weergee waarmee die meeste van ons bekend is,” sê Robert. “In jou kantoor het jy nie elke dag met drakedoders te doen nie, jy het te doen met mense wat jou metafories in die rug steek.”

As ’n program wat steun op woorde en idees pleks van glans en swier, stem The Good Wife eerder ooreen met sekere boetiek-kabelreekse soos Mad Men as die spul resepmatige programme wat CBS inryg. Maar die Kings sê die netwerk steun hul aandrang om nie ’n na-aap-benadering te volg nie.

“CBS gee ons baie vryheid,” sê Robert. “Dis wonderlik dat ons ons nie al drie of vier keer gehang het nie.”

Intussen omarm die Kings die minder-is-meer-beperkings wat uitsaaitelevisie op sekere gebiede neerlê. Soos die slaapkamer. Op sy eie kenmerkende manier styg The Good Wife uit as ’n baie gewaagde program.

“Jy sien nooit borste of boude nie; ons konsentreer op gesigte,” merk Robert op. “Maar as die akteurs goed is, en ons akteurs is, kan dit daardie tonele nog sexier en stouter maak.”

Michelle en Robert laat dit wat hulle doen, uitdagend klink, maar tog ook maklik lyk. Is dit nie baie moeilik om hulle daarvan te weerhou om ’n motorjaagtog, bylmoord of verrottende lyk in te gooi net om tred te hou met so baie ander programme nie?

“Dit kom nie eens by ons op nie,” sê Michelle, wat saam met haar man in Los Angeles woon. “Dit sou wees soos om in Kalifornië wil woon en sneeuskoene te koop.”

Deur FRAZIER MOORE (Via Sapa)