Is ek al een

...wat nie na The Fixer (the reeks word Scandal in Amerika genoem) kan kyk sonder dat ek die fantastiese Olivia Pope se pragtige uitrustings bewonder nie?

Ek is so bly die tweede seisoen het op M-Net begin wys. Met al daardie politieke intrige, rugstekery en die verliefde paartjie: Olivia, die vrou wat Washington met 'n ysterhand regeer en Fitz, die getroude Amerikaanse president, is dit een van my gunstelingreekse.

Olivia se snyerspakkies en ontwerpersjasse verdien hul eie Emmy-pryse! Hulle is soos 'n karakter op hul eie en die reeks se kostuumontwerper, Lyn Paolo, is 'n absolute genie. Nog 'n genie is Shondra Rimes (ook verantwoordelik vir Grey's Anatomy) wat die reeks geskep en Lyn en die aktrise Kerry Washington aangestel het.

In die eerste seisoen het daardie wit Tory Burch-soldatejas (sien foto) dit duidelik gemaak: Hier's 'n vrou wat bo gaan uitkom, 'n vrou soos wie ons almal graag wil wees, hoewel jou stresvlakke seker hemelhoog is as jy moorde en presidensiële rampe moet oplos. Wanneer sy rokke dra, kies sy iets soos die wit skepping deur Michael Kors met swart kant om die middel (sien foto. Ek kan nie wag om dit oor 'n paar weke in die sewende episode te sien nie), wat gemaak is sodat haar mededinger, die presidentsvrou, na 'n vaal muurblommetjie lyk. Ja, Mellie, jy't reg gelees.

En as sy ná ure aan 'n glasie wyn teug, doen sy dit in sysagte ontspanningsdrag. Laat ek nie eens begin praat oor haar pajamas nie; sy sou in haar stylvolle slaapklere van kasjmier en sy by 'n partytjie kon opdaag en ons sou almal dink dis die jongste skemerkelkiemode.

Ek hou ook daarvan dat sy, nes 'n normale mens, haar klere meer as een keer dra. En ek weet nou ek is nie al wat behep is met Olivia se styl nie; daar is blogs en tumblr-blogs wat opgedra is aan haar uitrustings en bewegende grafiese prentjies (in GIF-formaat) om dit te vertoon.

Die ontwerper Lyn het aan CNN gesê die klere moet die karakter uitbeeld. Dit werk beslis, want as ek Kerry Washington dalk eendag in daardie wit soldatejas oorkant die pad sien staan, sal ek oorhardloop en met  Olivia gaan gesels, voor ek onthou sy wil dalk liewer tydens 'n Kaapse vakansie as Kerry aangespreek word.

"As jy regtig jou werk reg doen, maak jy dit maklik vir 'n akteur om in daardie persoon se vel te klim," sê Lyn. "Hulle kan in die oggend by hul woonwa instap, die kostuum aantrek en ewe skielik word hulle daardie persoon."

En dit word altyd so beplan dat Olivia moet uitstaan. "As jy dink aan Washington DC, dink jy aan donkergrys en vlootblou. Almal lyk eintlik dieselfde . . . Ek wou seker maak ons laat Olivia Pope altyd op 'n manier uitstaan.." Daarom trek Lyn vir haar liggrys, wit en pastelkleure aan wat wys sy is "vroulik en sterk". Slim, né?

Ek wil hê Olivia moet my beste vriendin wees. So nie wil ek ten minste in haar klerekas gaan woon en gaan lê tussen die Gucci's, Armani's en Diors, terwyl ek aan 'n glasie wyn teug en aan my denkbeeldige volgelinge aankondig: "Alles is onder beheer."

- Natalie Cavernelis

- The Fixer word Maandae om 20.30 op M-Net uitgesaai.

In an elegant Armani jacket

Olivia, in a gorgeous Michael Kors dress, with the president and Mellie