Die konsert het begin met ’n huldeblyk aan oudpres. Nelson Mandela.

Bruce se eerste liedjie in Kaapstad was Free Nelson Mandela, wat deur die Britse musikant Jerry Dammers geskryf is en in die 80’s bekendheid verwerf het nadat The Specials dit opgevoer het.

Die lied is uitgereik om protes aan te teken teen die aanhouding van Mandela deur die apartheidsregime.

Dit was Bruce en die E Street Band se eerste optrede in Suid-Afrika, byna drie dekades nadat hulle in die 80’s aan die bekende Artists United Against Apartheid deelgeneem het.

Die Mandela-lied was ’n “aangename verrassing, omdat dit ’n persoonlike lied vir die gehoor was. Mense was op hul voete,” het ’n aanhanger gesê, wat naamloos wil bly.

Bruce het vroeër aan verslaggewers gesê die land se oorgang tot die demokrasie “was ’n wonderwerk” en dat dit vir hom “baie spesiaal is om hier te wees”.

[caption id="attachment_65527" align="aligncenter" width="600"]Bruce Springsteen en die E Street Band tydens hul optrede by die Bellville Velodrome gisteraand. Foto: Nardus Engelbrecht/ SAPA Bruce Springsteen en die E Street Band tydens hul optrede by die Bellville Velodrome gisteraand. Foto: Nardus Engelbrecht/ SAPA[/caption]

Hy en die E Street Band gaan nog twee optredes in die Kaap en een in Johannesburg hou as deel van ’n wêreldtoer wat hulle volgende maand na Australië en Nieu-Seeland sal neem.

Bruce Springsteen en die E Street Band het voor ’n stampvol gehoor opgetree in die Bellville Velodrome met plek vir 10 000 mense, het ’n woordvoerder van die organiseerders Big Concerts, Gwen Ironsi, gesê.

Die Kaapse optrede val saam met die uitreiking van sy 18de ateljee-album, High Hopes, die afgelope maand.

Springsteen, van wie al 120 miljoen albums verkoop het en way 20 Grammys gewen het, staan ook bekend as “The Boss”.

Hy het luide applous gekry tydens gisteraand se konsert toe hy ou gunstelinge uit sy loopbaan van meer as 30 jaar soos Born to Run en Hungry Heart opgevoer het.

Hy het die optrede afgesluit met sy bekendste lied, Born in the USA.

“Ek dink nie ons gaan ooit weer so ’n goeie show sien nie,” het Almari Wessels, ’n Huisgenoot-verslaggewer wat die vertoning in Bellville saam met haar pa bygewoon het, gesê.

- Sapa