Kaley Cuoco (27), Jim Parsons (40) en Johnny Galecki (38) van The Big Bang Theory beding glo saam om R5 miljoen per episode te verdien.

Volgens berigte op Deadline.com beding hulle sedert 2010 gesamentlik vir verhogings. Hierdie keer eis hulle ’n aansienlike verhoging op hul bestaande salarisse van R3,25 miljoen per episode.

Mayim Bialik (37), wat Amy speel, en Melissa Rauch (33), wat Bernadette speel, gaan glo hul eie kontrakte herbeding. Die twee is gereeld in die program te sien nadat hulle in 2010 as gasspelers begin het. Hulle verdien tussen R200 000 en R300 000 vir elke episode, maar dit kan verdubbel word.

Die salarisse sal waarskynlik elke jaar verhoog word, en kan teen die einde van hul kontrakte op R1 miljoen per episode staan.

Digitalspy.co.uk berig Simon Helberg (32) en Kunal Nayyar (32), Howard en Raj, onderhandel as ’n paar vir ’n verhoging. Hulle verdien tans onderskeidelik R1,25 miljoen en R750 000 per episode.