Soos altyd vra die Automobiel Assosiasie (AA) alle motoriste om waaksaam en bedagsaam te wees ter wille van hul eie en ander gesinne se veiligheid.

“Ons het reeds vanjaar te veel ernstige ongelukke honderde lewens sien eis. Ons moedig alle motoriste aan om ekstra-oplettend te wees agter die stuurwiel, deurgaans op die pad voor hulle te fokus, die verkeersreëls na te kom en aan ander bestuurders die nodige respek en hoflikheid te betoon. Ons padsterftesyfers is eenvoudig te hoog, en ons kan dit net die hoof begin bied as almal hul kant bring,” sê die AA.

Volgens syfers van die Padverkeerbestuurskorporasie is 1 420 mense in Julie verlede jaar op ons paaie dood – 235 meer as in Julie 2015. Die algehele syfer vir 2016 was ook hoër as 2015 s’n.

“Die syfers wys ook die toestand van paaie en voertuie is nie die grootste bydraende faktore nie, maar wel bestuurders se ingesteldheid. Te veel sal byvoorbeeld steeds verbysteek sonder dat hulle weet watter verkeer van voor af aankom, of elektroniese toestelle hul aandag laat aftrek, of die reëls veronagsaam.”

Benewens versigtiger bestuur, vra die AA motoriste moet toesien dat hul voertuie in ’n goeie toestand is voor hulle die terugreis aanpak. Bande, remme, ligte en die enjin in die algemeen moet betroubaar genoeg wees om julle veilig by die huis te bring.

Let ook asseblief hierna op: 
  • Kry genoeg rus voor julle vertrek;
  • Maak beurte om te bestuur met ander in die geselskap wat 'n rybewys het;
  • Hou elke twee uur of ná sowat 200 km stil om bene te rek, vars lug te kry of iets te eet;
  • Hou deurgaans by die spoedgrens;
  • Steek net verby wanneer jy seker is dit is veilig, en moenie ononderbroke wit strepe verontagsaam nie;
  • Moet nooit elektroniese toestelle agter die stuurwiel gebruik nie;
AASA
  • Maak sekere alle insittendes is veilig vasgegordel, insluitend babas, wat volgens wet in 'n karstoel moet wees;
  • Hou kinders in die motor besig om te voorkom dat hulle die bestuurder se aandag van die pad aftrek;
  • Vertrek vroeg om druk verkeer te vermy, maar ook nie so vroeg dat jy nog moeg agter die stuurwiel inskuif nie; 
  • Moenie huis toe jaag nie – dit is nie 'n tydren nie; veiligheid is die belangrikste oorweging;
  • Wees deurentyd op die uitkyk vir voetgangers en ander padgebruikers, veral in skemertoestande. Eersgenoemde verteenwoordig sowat 40 persent van alle padsterftes; en
  • Maak benewens die bande, remme en ligte seker die ruitveërs werk doeltreffend.