Was jy so gelukkig dat jy tyd tuis kon deurbring saam met jou jong kinders? Dan kon jy waarskynlik elke mylpaal ervaar wat jou kind bereik het. Tog moet die meeste ma’s eindelik weer die werkwêreld betree, omdat hulle wil óf omdat hulle moet. Wat jou ook al laat besluit het, dit kan swaar vir jou en jou kind wees.

Hoe benader jy dié oorgang sonder dat jy oorweldig word deur skuldgevoelens en die vrees dat jy jou kinders afskeep?

“Dis gewoonlik moeilik aan die begin wanneer jy teruggaan werk toe,” sê Busi Molewa, hoof en eienaar van ’n Montessori-kleuterskool in Atteridgeville wat ook ’n ruk ’n tuisbly-ma was. “Ek moes op baie goed inkort om meer tyd vir my kinders in te ruim. Nou sit ek naweke vir hulle opsy.”

Sy gee haar beste wenke:

  • Moenie te laat werk nie en kom so gou moontlik tuis sodat jy steeds smiddae tyd saam met jou kinders kan deurbring.
  • Sorg dat jy jou kind daagliks minstens skool toe vat óf gaan haal sodat hy kan sien jy ruim tyd in vir hom. Dit sal jou ook op die hoogte help hou van wat in sy lewe gebeur.
  • Beperk jou sosiale lewe deur die loop van die week. Of kuier saam met jou vriend(inn)e nadat jou kind gaan slaap het.
  • Maak so dikwels moontlik self jou kind se middagete, want sy sal dit waardeer dat haar mamma spesiaal vir haar middagete berei. Probeer altyd badtyd tuis wees sodat jy haar kan bad. Volgens Busi beteken dié kosbare oomblikke baie vir ’n kind.

Hoe raak dit ’n kind wanneer ma teruggaan werk toe?

Robyn Jacobs, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, sê navorsing toon kinders ervaar op lang termyn geen gedrags-, akademiese of emosionele probleme omdat hul ma teruggaan werk toe nie.

“In die eerste paar weke kan daar ontwrigting wees deurdat die kind sensitiewer, emosioneel, nukkerig of klouerig kan word of ander ‘stout’ gedragspatrone toon (soos dat hy speelgoed gooi en goed breek). ’n Bietjie agteruitgang kan as normaal beskou word.

“Maar sulke optrede kom algemeen voor tydens enige groot verandering in die kind se lewe, byvoorbeeld wanneer hy ’n nuwe boetie of sussie kry, van skool verander of julle verhuis,” sê Robyn.

Dikwels voel ma’s skuldig omdat hulle weer gaan werk en nie baie tyd by die huis deurbring nie weens hul loopbaan.

“Sulke skuldgevoelens is niks snaaks nie, maar gewoonlik ongegrond. Moenie te streng wees met jouself nie; jy doen wat die beste is vir jou unieke gesinsituasie; moenie sleg voel daaroor nie.

“Moet jou met niemand vergelyk nie en moenie luister na mense wat jou skuldgevoelens vererger nie. Al wat saak maak, is dat jy en jou maat saamstem oor dié besluit,” sê Robyn.

Haar wenke vir ma’s wat oorweldig voel:

  • Dink na oor presies wat dit is wat jou skuldig laat voel en stel vas of jou vrese gegrond is.
  • Is daar enigiets wat jy kan doen om die omstandighede te verander? Jy kan dit oorweeg om ander sorg vir jou kind te reël; so nie, gesels met jou bestuurder oor fleksietyd.
  • Gun jou tyd; soms sal die skuldgevoelens vanself weggaan sodra jy sien jou kind is gelukkig en pas goed aan.
  • As skuldgevoel jou oorweldig, moet jy met iemand praat. Gesels daaroor met jou maat, ’n vertroude vriend of terapeut.

-Katlego Mkhwanazi