Op besoek aan die graf van ’n familielid in die begraafplaas in die Ferraz de Vasconcelos-deel van São Paulo, het ’n onbekende rouklaer tot haar ontsteltenis ’n hand uit ’n graf sien oprys.

Sy het haar boeglam geskrik toe sy ’n lawaai by die graf hoor en sien hoe die grond daarop beweeg. Toe sien sy ’n man wat homself uit die graf probeer optrek .  .

Sy het later aan die owerhede gesê: “Ek was vreesbevange om te sien hoe ’n man, wat ek gedink het dood is, uit die graf probeer klim.”

Die man, wat lewend begrawe is, is gered nadat die vrou die owerheid in kennis gestel het. Hier is ’n video van hoe die reddingspan die man, wat hom al begin uitgrawe het, uit die graf haal.

Die owerheid is onseker hoe die stomme man in ’n graf beland het nie. Hy was glo betrokke by ’n geveg in ’n ander distrik, is erg geslaan en toe na die begraafplaas gebring, waar hy begrawe is.

-Faiza Mallick

Bronne: huffingtonpost.com, guardianlv.com