Knyp jy jou beursie ál stywer toe, maar dit lyk of daar nog  maand oor is nadat jou salaris op is? Skooluitgawes kan ’n lelike duik in jou geldsake maak as dit nie noukeurig bestuur word nie. Ons gee jou wenke sodat jy by ’n begroting kan hou.

  • Begin met ’n begroting en laat die ouer kinders jou help besluit hoe om daarbinne te bly. Verduidelik hoeveel jy kan bestee en wat die gevolge sal wees wanneer julle die begroting oorskry (soos minder flieks). Laat hulle jou ’n lys help opstel van alles wat hulle nodig het. Hou by die lys skryfbehoeftes en boeke wat die skool verskaf het en moenie onnodige goed koop nie. Herwin ook bruikbare items van die vorige jaar, soos vouers.

  • Bly binne jou begroting. Sit kontant eenkant en gebruik dit vir alledaagse inkopies. Wanneer jy ’n kredietkaart gebruik, is dit makliker om meer te bestee.

  • Los jonger kinders tuis sodat jy nie kop verloor nie wanneer jy gaan inkopies doen, maar neem die ouer kinders saam sodat hulle jou kan help pryse vergelyk en besluite neem.

  • As kinders op luukse items aandring, soos duur handelsmerk-skoene, laat hulle uitwerk hoe dit in die begroting inpas en waar hulle kan besnoei. Of laat hulle hul sakgeld gebruik om die verskil te betaal tussen die gewone tekkies en dié wat hulle wil hê. Onthou, jy bewys jou kinders nie ’n guns deur vir hulle alles te gee wat hul hart begeer nie. Hoe gouer hulle die waarde van geld en finansiële oordeel begryp, hoe beter. Kinders sal duur items beter oppas as hulle verstaan hoeveel hulle kos.

  • Wees op die uitkyk vir tweedehandse goed om jou begroting te help klop. Wees proaktief. Vra ouer kinders in die buurt of hulle hul boeke, sakrekenaars en selfs rekenaars wil verkoop. Spaar deur jou kinders se ou skoolklere te verkoop.

  • Koop in grootmaat, veral wanneer jy goed soos plastiekomhulsels vir vouers koop.

  • Bou ’n voorraad skryfbehoeftes op vir daardie laataande wanneer die kinders skielik ’n pen of skryfblok nodig het en jy dit ten duurste by ’n geriefswinkel moet gaan koop. Vul jou voorraad aan met gratis penne, aantekeningblokke en ander bemarkingsmateriaal op konferensies en in hotelle.

Voor jy honderde rande op ’n buitemuurse bedrywigheid uitgee, vra of jou kinders een of twee sessies kan bywoon om te verseker hulle geniet dit en het die geesdrif om voort te gaan. In party gesinne is dit ’n reël om buitemuurse bedrywighede tot een of twee te beperk.